Boland Landbou soek agste sege
2005-08-11
KAN Boland Landbou dit agt in ’n ry maak? Dit is die vraag wat die toeskouers hulle Saterdagmiddag sal afvra wanneer die o.19A rugbyspan van Hoër Landbouskool Boland en Oakdale opdraf vir hul jaarlikse interskole-kragmeting.
Die wedstryd word vanjaar op Riversdal beslis, maar Boland Landbou se kaptein, Gert Kroukamp, is vol selfvertroue dat sy span weer die pyp sal rook.
Die span van die Agter-Paarl beskik oor ’n besonderse goeie lostrio. Kroukamp (agsteman) en flank Morné Hanekom het vanjaar albei WP Cravenweek gespeel, terwyl die ander flank, Stephan Franken, en Ben Gryling (stut) in die Wes-Kaapse span ingesluit is.
As die Oakdale stryd in nat toestande beslis moet word, sal dié kombinasie beslis tot hul reg kom.
“Ons plan is om hulle voor in te trek en hulle dan agter te slaan. Ons het twee gevaarlike senters in Daniël Theron en Arthur Simon. Daarby het ons losskakel, Stiaan van Zyl, ’n goue voet,” sê Kroukamp.
Die ervaring van Van Zyl, Kroukamp, Simon en Theron, wat verlede jaar ook in die interskole-wedstryd gespeel het, sal ook handig te pas kom.
Boland Landbou loop 13-5 voor in die 19 interskole-kragmetings wat die twee skole al gespeel het. Oakdale kon in 1997 laas 26-22 wen.
Die hoofwedstryd begin om 15:30. Die o.14A-span begin reeds om 08:30, die o.15A volg om 09:30, die o.16A’s om 12:30 en die o.19B draf om 13:40 op die veld.
More
News
|