Drakies maak geskiedenis
2009-05-14
GESKIEDENIS is verlede Saterdag stil-stil gemaak toe die eerste geskeduleerde vroueklubrugbywedstryd van die Drakenstein Vroue-rugbyspan, onder die vaandel van die Westelike Provinsie Vroue-rugbyunie, teen die Maties van Stellenbosch plaasgevind het. Die ervare Matiespan het weliswaar maklik afgereken met die onervare span van die Drakenstein, maar dit was te wagte as in ag geneem word dat die Drakies (soos die span van Drakenstein genoem word) slegs drie weke gelede gestig was. Voor die wedstryd teen die Stellenbossers, was die Drakies bo-aan die punteleer na een wedstryd in die liga, na afloop van hul onverwagse sege van 35-7 teen Langunya. Die Maties het egter die bordjies verhang toe hulle die afgelope naweek met 32-0 geseëvier het oor Drakenstein. Die Drakies bestaan tans uit vroue van die Paarl. Soos die bestuur aangedui het, fokus die Drakies op die die agtergeblewe gemeenskappe om aan jong vroue ’n werkbare alternatief te bied tot anti-sosiale en negatiewe vryetydsbesteding. Die spelers is almal baie entoesiasties en toegewyd. Met al die talent tot die klub se beskikking, glo die bestuur dat die span nog sommer baie goed van hulself rekenskap gaan gee. Die Drakies hoop om dié seisoen ten minste vier spelers in die WP-span te hê. Op dié stadium is daar ’n adhoc-bestuur saamgestel met Rudolph Francis die president, en Felicia Ross as vise-president. Wayne Marthinussen is die klub se bagasiemeester, met sy assistente, Edward Sabat en Franklin Damonse. Martin Kriel behartig die afrigting-posisie. Die rol van spanbestuurder word tussen Rudolf Francis en Angeline Ross geroteer. Uitblinkers tot dusver vir die Drakies is Porscha Scott, Abigail Jantjies, Recall Crain, Shanice Sabat, Theresa Damon en Juanita Damon. Die klub oefen Maandae en Woensdae te Daljosafat-stadion en die klub nooi alle belangstellende vroue uit om saam te oefen. Kontak Martin Kriel by 078-430-1273 of Rudolf Francis by 082-703-8664.
More
News
|