Paarl Rugbyklub oorkom vuilspel
2009-05-14
PAARL se eerste rugbyspan moes Vrydagaand van al hul ervaring gebruik maak om Strand United met 22-14 op Faurestraat-stadion te troef. Met die manne van die Strand wat al jare bekend is vir hul vuilspel, was dié wedstryd weereens gekenmerk deur uiters geniepsige spel deur die besoekers. Verskeie spelers van die Paarl is ná die wedstryd gelaat met krapmerke aan die gesig en oë. Verbale intimidasie was ook aan die orde van die dag en daar is in spelers se gesigte gespoeg. Paarl het vroeg in die wedstryd voorgeloop toe Jaco Immelman ’n baie goeie agterlynbeweging in die regterkantse hoek afgerond het met ’n skitterdrie. Kort daarna het die agsteman Andrie Greeff nog ’n drie vir Paarl behaal ná sy span met ’n oorstootskrum vorendag gekom het. Kort hierna het die teenstanders weer skrums afgedwing waarin nie gekompeteer mag word nie, waarna Paarl nie meer gesag deur die voorspelers kon afdwing nie, met die gevolg dat die spel in ’n los getjommel ontaard het. Paarl se ander punte was aangeteken deur die losskakel Jacques Hendricks met twee strafdoele en Ryno van Wyk (plaasvervanger-skrumskakel) met een strafdoel. Die tweede span moes ook hard werk om met 29-0 te seëvier en die derde span het 24-0 gewen. Paarl se o.20-span is steeds onoorwonne nadat hulle Saterdag ’n 26-5 oorwinning oor UK se B2 span behaal het in nóg ’n wedstryd waar die teenstanders later nie meer wou skrum nie. Paarl se drieë is gedruk deur Martin Barnard (vleuel), Ludolf Pretorius (vleuel), Gerhard Goosen (slot) en Pieter-Andries Basson (heelagter). Louis Schlechter (losskakel) het drie doelskoppe bygedra. Paarl se senior spanne speel Saterdag weg teen Brackenfell terwyl die onder 20’s op die Boy Louw-velde teen Valsbaai B speel om 14:45.
More
News
|