Gardens wen naelbyter
2009-05-14
NÁ twee agtereenvolgende nederlae en ’n gelykop-uitslag, het die eerste rugbyspan van Young Gardens hom Saterdag reggeruk deur ’n aanskoulike 32-28 oorwinning te behaal oor Laer Paarl Blues te Gardens Park. Die wedstryd is teen ’n vinnige tempo gespeel en dit was duidelik dat beide spanne lus was om rugby te speel op die sonskyndag. Beide spanne het die bal lug gegee en elke keer daarmee probeer hardloop. Dit was dus nie lank nie, voordat Gardens se Aswill Abrahams deurgenael het om ’n onverdoelde drie te behaal, waarop Laer Paarl vinnig geantwoord het met ’n strafskop om die telling 5-3 te maak. Twee afdelings van die spel waar albei spanne geen genade vir mekaar getoon het nie, maar wat ’n baie gelykop affêre was, was in die lynstane en skrums. Gardens se voorspelers sal egter hul sokkies moet optrek wat die losskrums betref, aangesien hulle te stadig na die afbreekpunte toe speel. Gevolglik was die tuisspan se balbesit vertraag deur Laer Paarl se spelers. Na volgehoue druk op die Blues se doellyn, was ’n strafdrie aan Gardens toegeken wat verdoel is deur Justin van Schoor. Laer Paarl het hulself gereeld skuldig gemaak aan negatiewe spel by die losskrums en is herhaaldelik gestraf. Net voor rustyd het Gardens ’n aanval geloods, maar ’n hanteerfout deur die agterspelers het vir Laer Paarl toegelaat om te gaan druk om die rustydtelling 12-11 te maak. In die tweede helfte van die wedstryd het Gardens se Abrahams sy tweede drie onder die pale gaan druk, met Van Schoor wat suksesvol was met sy doelskop. Laer Paarl het geantwoord met ’n verdoelde drie nadat hulle vinnig by ’n lynstaan ingegooi het. Gardens se voorspelers het hierna stadig die oorhand in alle fasette begin kry en gevolglik beter bal aan hul agterlyn voorsien. Van Schoor het met ’n strafskop geslaag om die telling 22-14 in Gardens se guns te maak, maar Laer Paarl het teruggeantwoord met twee verdoelde drieë die voortou te neem met 28-22. Met ses minute se speeltyd oor het Gardens se Ettiene Ruiters die bal vorentoe geskop, met niemand anders nie as Abrahams wat die bal opgepik het en 50 meter genael het om sy derde drie te gaan druk. Van Schoor het weereens sy drie verdoel en dus sy deel gedoen om aan sy span ’n 32-28 oorwinning te verseker. Gardens se uitblinkers was beslis hul twee groot puntemakers, Abrahams en Van Schoor, met Isaac de Jager en Denver Smit wat ook meer as hul kant gebring het. Smit het sy debuut in die eerste span gemaak. Gardens se tweedes het 17-0 gewen en die derde span het 12-7 gewen. In die junior-wedstryde het Gardens se o.12’s 14-10 gewen, die o.14’s het 49-0 gewen en die o.16’s het 10-12 verloor.
More
News
|