Young Peoples wen rugbystryd tussen Tiere
2009-05-14
DIE stryd van die Tiere is Vrydagaand op Floridapark deur die Tiere van Young Peoples gewen toe hulle die Tiere van Tygerberg met 24-20 verslaan het. Die Tiere van Young Peoples het swaar in die skrums geleef teen die swaarder agtal van die tuisspan, Tygerberg. Die stryd tussen die voorspelers was egter verwoed en Young Peoples moes met goeie verdediging telkemale die voorspeler-momentum van Tygerberg breek. Tygerberg het eerste punte aangeteken met twee vinnige drieë deur die voorspelers. Net voor rustyd het Young Peoples egter begin momentum opbou en die losskakel Dimitri Cupido kon slaag met ’n strafdoel. Die spanne het gaan rus met die telling op 3-10 vir die tuisspan. Young Peoples het ná rustyd met tempo-rugby die swaar voorspelers van Tygerberg oor die veld gespeel. Die Paarliete se heelagter, Dominique Daniels, het met spoed in die agterlyn gesny en onder die pale gaan druk. Young Peoples se Cupido het ’n reuse wedstryd vir die Tiere gespeel en goeie rigting aan die agterlyn van Young Peoples gegee. Ná goeie spel tussen voor- en agterspelers het Daniels die agterspelers van Tygerberg met spoed geklop vir sy tweede drie. Cupido het hierna nog drie strafdoele bygevoeg en Peoples het met 24-10 voorgeloop. Tien minute voor die einde van die wedstryd het Peoples oorgerus geraak en toegelaat dat Tygerberg ’n strafdoel en ’n verdoelde drie druk om die telling op 24-20 te staan te bring. Die laaste vyf minute van die wedstryd moes Peoples verwoed keer om die span van Tygerberg van hul doellyn af te hou, maar laasgenoemde kon nie die verdedigingsmuur van die Paarlse Tiere breek nie. Om sake vir Peoples moeiliker te maak, het die skeidsregter nagenoeg tien minute se beseringstyd geblaas. Tygerberg kon egter nogtans nie Peoples se doellyn oorsteek nie. Young Peoples het dus Vrydagaand as die welpies na Tygerberg gegaan, maar as die Tiere teruggekeer. Peoples se tweede span was ook aan die wenkant, met 18-16, die derde span het vasgeval met 0-20 en die o.20’s het 3-10 verloor. Alle spanne van Young Peoples speel Saterdag op die Daljosafat-stadion teen Pniel Villagers. Na afloop van die wedstryd word ’n steak-platter verkoop teen R40.
More
News
|