Man ernstig ná botsing met bees
2009-05-14
Lise Beyers
’n MAN is in ’n kritieke toestand nadat ’n rondloperbees voor sy motor ingeloop het op die hoofpad tussen Paarl en Mbekweni. Twee mans, Jacob Miller en sy passasier, ene Morris, was verlede Donderdagaand vanaf die Paarl na Wellington onderweg op Jan van Riebeeckrylaan toe ’n koei voor hulle ingedwaal het tussen Vlakkeland en die Mbekweni-verkeerslig. Die motor het die bees getref en op die verkeerseiland tot stilstand gekom. Genadiglik is die bees op slag dood. Miller, is lig beseer, maar Morris is in die motor vasgepen en het ernstige gesigbeserings en beenbreuke opgedoen. Lede van Paarl nooddienste het vir ’n geruime tyd gespook om hom veilig uit die wrak te verwyder. Hy is na Tygerberg Hospitaal geneem vir behandeling. Rondloperbeeste is jare al ’n knellende probleem op plaaslike paaie, veral op Jan van Riebeeckrylaan naby die woonbuurt Mbekweni. Hier breek beeste dikwels uit hul kampe om na groener weivelde te gaan soek. Talle ongelukke soos dié van Donderdagaand het reeds hier plaasgevind. Dit is teen die padverkeerswetgewing (Wet 93 van 1996) dat diere los loop. Hierdie diere is veronderstel om deur die wetstoepassers van die Munisipaliteit geskut te word by die munisipale veeskut in Stokeryweg, Paarl, maar dit gebeur nooit nie. ’n Woordvoerder van die Munisipaliteit, May Carolissen, het vandeesweek gesê dat hierdie aangeleentheid tans aandag geniet by die Munisipaliteit en hulle is besig om planne te bewerkstellig om die beeste vanaf die krale op die Vlakkeland-pad te verskuif na ’n ander ligging. * A man was seriously injured when a cow wandered in front of a vehicle on Jan van Riebeeck Drive.
More
News
|