Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Afskeid van Paarl Print slagoffers

Afskeid van Paarl Print slagoffers
 
2009-05-14

Lise Beyers

VRYDAG 17 April was die laagtepunt in die 105 jaar van Paarl Print.

Dit was Saterdag duidelik toe sowat 1000 roubeklaers die Johan Graue-saal by Nederburg bankvas gepak het, tydens ’n gedenkdiens vir die Paarl Print-brandslagoffers.

Familie, vriende en kollegas het hande gevat om saam hierdie tragedie te verwerk.

Talle het geel strikkies gedra ter nagedagtenis aan die slagoffers, en verskeie kollegas het verkies om hul Paarl Print hemde te dra.

Onder leiding van pastoor Graham Taff het ’n hoogsemosionele gedenkdiens plaasgevind.

Die omvang van die brand was duidelik merkbaar op die gesigte van bestuurspersoneel, wat die afgelope drie weke onophoudelik gewerk het om die krisis te hanteer nadat die fabriek afgebrand en 12 slagoffers gesterf het.

Die gevalle maatskappy se voorsitter, Lambert Retief, het gesê dat hierdie voorval en sy slagoffers altyd in die geheue van die Paarl Media-groep sal wees.

“Elke vier jaar hou ons op hierdie perseel ’n skrikkeljaarparty, maar vanjaar is dit heel anders.

“Die maatskappy is daarop gefokus om vir die slagoffers en beseerdes van die brand finansieel en sielkundig by te staan.”

Hy het bygevoeg dat die wiele tans rol om die maatskappy weer op sy voete te kry, al gaan dit op ’n ander perseel wees.

“Ons werk aan ’n nuwe Paarl Print sakemodel en al die personeel sal op hoogte hiervan gehou word.

“Die eerste bestellings vir nuwe masjinerie word vandeesweek geplaas, en ons beoog om binne drie maande met produksie te kan begin.”

Die besturende direkteur, Mike Ehret, het beskryf hoe hierdie brand almal se lewens verander het.

“Dit het vir ons almal in rou verenig, maar ook verenig in ons vasberadenheid om die maatskappy te herbou.”

Hy het na die slagoffers verwys as helde wat hul lewens opgeoffer het om hul mede-werkers te probeer help.

Stephen van der Walt, hoof van die Paarl Media-groep, het die hele gemeenskap bedank vir hul ondersteuning tydens hierdie donker ure.

“Die ondersteuning wat ons steeds kry, is ongelooflik.

“Die emosionele wonde wat gelaat is, is baie diep en woorde kan ons deurdringende gevoel van verlies nie beskryf nie.

“Laat ons ook nie vergeet van kollegas wat steeds in die hospitaal aansterk nie. Baie mense wat hier is, was tot onlangs nog in die hospitaal.

“Ons is vasbeslote om antwoorde te vind en ons is in die proses om ’n veiliger werksomgewing te bewerkstellig.”

Teen die einde van die diens, het familielede van die gestorwenes kerse aangesteek langs hul geliefdes se portrette.

’n Emosionele toneel het hier afgespeel toe ouers, kinders en lewensmaats van die slagoffers na vore gegaan het.

So het ’n pynlike hoofstuk in die geskiedenis van Paarl Print tot ’n einde gekom, maar dit sal beslis nie die laaste hoofstuk wees nie.

* An emotional memorial service was held on Saturday for the victims of the Paarl Print fire.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za