Belowende fietsryer aangerand by kampioenskappe
2009-05-14
Jaco van Wyk
“EK is bereid om alle posisies prys te gee sodat regverdigheid seëvier.” So sę nasionale keurder en bestuurslid van SA fietsry, Peter Daniels, oor die voorval tydens die SA Baankampioenskappe in Bellville waartydens sy seun, Bradwin Daniels (14), deur ’n mederyer aangerand is. Die voorval het plaasgevind nadat Bradwin, na bewering, verantwoordelik was vir ’n botsing waarin vier ryers betrokke was tydens die o.16-baan-uitdunren. Die kampioenskap het oor Paasnaweek in die Bellville Velodrome plaasgevind. Devlin White (15) van Johannesburg, een van die gunstelinge in dié betrokke ren, was so woedend dat hy ná afloop van die ren na Bradwin gegaan het en hom teen die bors gestamp het en aan die arm geruk het. Dit is egter die verbale aanranding wat volgens Peter Daniels uiters onaanvaarbaar is. “Toe Devlin die grond tref, het hy vir Bradwin geskree I’ll kill you! “Dit was die boodskap wat verskeie ooggetuies aan my oorgedra het. “Die woorde van Devlin se pa kan ek ook nie goed praat nie, nadat hy gesę het ons hoort nie in die land nie,” sę Peter. Bradwin se ma, Thiry, was so ontsteld na die insident, dat sy per ambulans na die N1 City hospitaal geneem is, nadat sy noodbehandeling moes ontvang. Thiry het twee dae in die hospitaal deurgebring. “Thiry is nog nie 100% nie. Sy is maar geskok deur die insident,” sę Peter. Bradwin is na afloop van die ren gediskwalifiseer, maar volgens Peter sit hy met die video-opname en kan hy nie verstaan op watter gronde sy seun gediskwalifiseer is nie. “Die oomblik toe die ander klomp val, was Bradwin reeds op, en ’n wiellengte voor die ander ryers. “Vir die afgelope twintig jaar was daar nog nooit iemand op so ’n manier gediskwalifiseer nie, en daar het al honderde valle in SA fietsry plaasgevind,” sę Peter oor sy seun. “Dit was baie onaangenaam dat Bradwin nie verder kon deelneem nie, want hulle het hom sodoende van sy SA kleure ontneem.” Volgens Peter weet hy nie wat die nadraai van die insident gaan wees nie, maar hy is nie bereid om dit net daar te los nie. “Regverdigheid sal seëvier.”
More
News
|