Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Die mense op my pad

Die mense op my pad
 
2009-05-21


BY ons gesin, soos trouens ook by baie ander mense wat ek ken, is dit die gebruik om ’n verjaardagtelling met ’n nul of ’n vyf as laaste syfer te vier.

Elke vyf jaar is daar dus in ons huis ’n behoorlike viering, want viering behels ook gemeenskap met familie en vriende wat jy in die loop van die jaar dikwels nie genoeg sien nie.

Daarby is so ’n viering ook ’n terugblik op jou lewe, wat van tyd tot tyd ook nodig is. Die neiging van die ryper jare is immers een van introspeksie en retrospeksie.

Die afgelope Aprilmaand was dit my beurt, en my syfertelling het my opnuut daaraan herinner dat die lewe ’n oogwink is, dat die uurglas stadig maar seker uitloop, maar dat jy gelukkig met ’n skat van herinneringe sit wat jou lewe verryk.

En dat die meeste van hierdie herinneringe met mense verband hou.

Wie is die mense wat my wesenlik beïnvloed het? Wie is die mense wat my uit ’n ander hoek na dinge laat kyk het, of meer dramaties nog, wat my lewe in ’n sekere rigting gestuur het? Wie se rol was onmisbaar? Wie se invloed dra ek met my saam, en wie se stempel?

Dit is dinge waaroor ek die afgelope tyd gedink het ter voorbereiding van my toesprakie voor familie en vriende, kinders en kleinkinders.

In sy rubriek Geestelike Waardes in Die Burger maak Dirkie Smit onlangs die opmerking dat hierdie soort vraag terselfdertyd ’n vraag is na die identiteit en aard van my menswees.

In die beelde, herinneringe en ervaringe wat daar in my opgesluit lê, lê daar ook die vraag na wie en wat ek is.

Buiten sekere bepalende genetiese faktore, is ons grootliks wat ons is danksy ander; ja, vanweë ander se optrede, of dit nou goed is of sleg.

Ons dra merktekens van vriende, van klasmaats en van familie, van ma’s en pa’s, oumas en oupas.

Ek kan in alle eerlikheid sê dat my pa een van die groot invloede in my lewe was.

Sy waardesisteme, sy eerlikheid, sy mensliewendheid, sy grenslose idealisme en ywer vir ’n beter onderwyskorps, en sy klem op professionele etiek en korrektheid bly my tot vandag toe by.

Jy moet die regte soort mens kweek vir die onderwys wat as rolmodel vir kinders dien.

Dis eerder die mens wat voor hom staan wat die kind beïnvloed en wat hy sal onthou - veel eerder as alleen maar koue, kliniese leermateriaal.

Die leerproses vind veel beter toegang tot die kind – veral die kleiner kind – as dit in ’n liefdevolle omgewing aangebied word, en deur ’n mens wat die kind respekteer en kan navolg.

Daarom moet die onderwyser self onberispelike gedrag en hoë morele waardes handhaaf. Dit was altyd sy pleidooi as gesoute onderwysman.

Tot vandag toe glo ek daaraan, en het dit ’n invloed op my lewe. Jou lewe straal ’n veel groter invloed uit as blote woorde. Ek glo ook steeds hartstogtelik aan professionele etiek, en dit pynig my soms as ek onderwysstudente met kale stranddrag as klasdrag op straat sien rondslenter, sigaret in die hand.

Dit pynig my as ek lees van onderwysers wat sonder rede uit die klas bly, of laat vir klasse kom.

Ek word kwaad vir blote salaris-trekkers sonder ’n passie vir ’n kind; onderwysers wat met ’n ongeërdheid om­gaan met die ongelooflike groot verantwoordelikheid in sy hande, naamlik kinders wat hy soos klei kan vorm en lei, ’n vorming wat die kind lewenslank ten goede of ten kwade kan beïnvloed.

Dit verskaf plesier as ek ’n netjies-geklede professionele mens – voorkeur mooi hemp en das – sien wat onder andere ook weet hoe om jou te groet en die telefoon korrek en beleefd te beantwoord.

Dit verskaf my plesier as ’n jong seun in ’n kleurbaadjie en das – soos met ’n onlangse ervaring - in die dokter se vol spreekkamer opstaan en vir my ’n stoel aanbied (’n produk van een van die groot Paarlse skole.)

Jy hoor dikwels onderwysers sê dat vandag se kind onmoontlike eise in die skool stel omdat ouers nie hulle deel doen nie.

Een van die belangrikste redes wat aangevoer word, is die verkrummeling van gesinstrukture, die talle enkelouers in vandag se samelewing wat werk, en dat die nodige dissipline daarmee agterweë bly.

Inderdaad is dit so, maar ek wil bly glo aan die positiewe invloed van goeie mense.

Ek wil bly glo dat daar in “moeilike” kinders se lewe iemand sal wees van wie hy later, as hy soos ek terugkyk, kan sê: daardie mens het my lewe in ’n ander rigting gestuur.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za