EK, ’n jarelange Eisteddfod-tannie, moes verlede Dinsdag op kort kennisgewing inspring in die plek van die sameroepster vir graad 2 en 3 voordrag by ons plaaslike Eisteddfod.
Twee weke voor die tyd moes die bestuur inderhaas inspring en nog al die administrasie afhandel (aangesien daar niemand bereid was om vir die werk in te staan nie) en dus is die indelings ongelukkig nie soos in die verlede gedoen nie en het al die graad twees en dries gelyk daar aangekom.
Daar word gewoonlik ’n tyd gegee vir elke 30 deelnemers, sodat die kinders nie so lank moet wag nie, want ’n beoordelaar kan slegs 20-25 leerders per uur beoordeel.
Wat ’n klomp ongeduldige ouers! Ons het telkemale die situasie probeer verduidelik.
Hulle het so geraas dat niemand kon aangaan met beoordeling nie! As ons die deur toemaak vir die geraas, kom die ouers net in, maak nie saak of iemand optree nie en of dit hulle beurt is of nie.
Die beoordelares was gelukkig baie bekwaam en het haar goed gekwyt van haar taak. Ons sê baie dankie aan al die geduldige ouers wat bereid was om te wag, toe die program agter geraak het. Almal is uiteindelik gehelp en beoordeel.
Dankie ook aan al die Eisteddfod-mense wat elke jaar hierdie groot taak sonder enige betaling vir die liefde van die saak doen. Dankie vir julle passie, wat uiteindelik ons kinders dra tot groter hoogtes.
Skryf asseblief weer in, al is daar soms haakplekke, en geniet dit, want dit is wat tel. Mense maak soms maar foute.M Potgieter