Dankie aan almal wat bejaardheid verstaan 2009-05-21
DIE inwoners van Rusoord wil graag vir die kinderkomitee asook die seun van ’n inwoner bedank vir die vier van sewe badkamers wat hulle in storte omskep het.
Een van die vele uitdagings wat bejaardes mee te make het, is om in en uit ’n bad te klim.
Die omskepping van die badkamers in storte het die lewe vir ons bejaardes drasties vergemaklik.
Ons kan regtig nie genoeg dankie sê vir die kinders van inwoners en die gemeenskap wat so onbaatsugtig van hulle tyd en geld gegee het om dit vir ons gerieflik en aangenaam te maak in hierdie tyd van ons lewe waar ons baie weerloos en afhanklik geraak het nie.
Dankie dat julle verstaan sonder dat ons hoef te sê.
Ons sal so graag meer wou doen om Rusoord se finansies aan te vul, maar selfs dit kan ons nie byhou soos ons wil nie.
Die bestuur en die inwoners is die gemeenskap van die Paarl innig dankbaar dat julle ons nie vergeet nie; dat julle opreg vir ons omgee en bereid is om van julle kosbare tyd vir ons af te staan.
Weet net dat elke glimlag, elke besoekie en elke vriendelike woord van bemoediging ons dae en harte opvrolik.
Moet ons asseblief nie vergeet nie.
Minette du Toit, namens inwoners en bestuur, Rusoord ouetehuis