Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sport 'n reënboogviering op Wellington

Sport 'n reënboogviering op Wellington
 
2009-05-21


MY verklarende woordeboek sê: ’n Marathon is ’n hardloopwedstryd oor ’n afstand van ongeveer 26 myl, so genoem ter herinnering aan die boodskapper wat hom dood gehardloop het om die nuus van die groot oorwinning oor die Perse in 490 vC van Marathon na Athene te bring. Interessant, ’n half-marathon behoort so 20,8 kilometer te wees, dit is te sê as die 26 myl so lank gelede korrek gemeet is.

Wat my by die volgende bring: Op 1 Mei het ek as oud-Kapenaar, maar nou Gautenger, die voorreg gehad om aan die SAD half-marathon deel te neem.

Dit was ’n wonderlike ervaring en nie die reën of die effe koue wat die Kaap getref het, kon die geleentheid demp nie.

By die wegspring was daar mense wat die volle kompliment van Suid-Afrika se reënboognasie verteenwoordig het.

Die vrolike geskerts was iets besonders om te ervaar en het die fyn misreëntjie se ongemak totaal verdryf. ’n Laaste goeie wens van die burgemeester en die klap van ’n skoot, het ’n lang stroom mense aan die gang gebring teen ’n opdraande in Willem Bassonstraat.

Die groot verrassing langs die pad, was die aanmoediging van die menige groepies plaasmense. Grootmense en kinders het tot in die reën gestaan en ons aangemoedig (met ’n “hou bene hou”) asof ons almal wenners op ’n hoërskool se atletiekbyeenkoms was. Aan hulle dra ek graag my dank oor.

Ons aankoms by die stadion was goed gereël en dit was lekker toe die aankondiger tussen al die atlete, ook nog my nommer kon raaksien om so my volle doopname aan die skare voor te lees.

Die rugbyveld het vir my soos ’n volksfees daar uitgesien. Vure het gebrand en jy kon koop van ’n roosterkoek tot ’n warm koppie boeretroos om dit af te sluk. Terwyl toustanery nodig was om by verkopers uit te kom, was daar tussenin vrolik gesels en almal was ondanks die weer in ’n goeie stemming.

Dit het my daaraan laat dink, dat die geleentheid waarskynlik weerspieël wat Madiba in gedagte gehad het, toe hy die woord reënboognasie in die volksmond kom lê het.

Die groot geel banier met sy vet swart letters “SAD” oor die straat, het my herinner aan die bydrae van die borg, maar ook aan ’n “South African Dream” in realiteit. Aan die Bolanders en veral vir dié op Wellington, wil ek graag sê: Hardloop gerus dié besondere marathon, en waardeer dit.

Op die end hardloop niemand hulle dood nie en almal vier ’n mooi oorwinning in goeie menseverhoudings.

Baie dankie aan SAD en aan die mense van Wellington.

Roelf Oosthuizen




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za