Derby-koors pak Paarl beet
2005-08-11
DIT lyk asof vanjaar se Derby-kragmeting tussen die o.19A rugbyspanne van New Orleans en Klein Nederburg deur die vernuf en spoed van die agterlyne bepaal sal word.
Nie een van die twee skole spog werklik met ’n kragtige pak nie, maar dit verseker dat die kompetisie voorlangs baie gelykop sal wees.
Dit beteken ook dat die agterlyne die finale sê gaan hê.
“Ons het twee gevaarlike vleuels - as die bal by die punte uitkom dan kan daar dinge gebeur,” waarsku KN se kaptein, Audrin van Schoor. “Ons twee flanke, Elrich Croutz en Gershwin Hermanus, jag ook die bal baie goed op die grond.
“Die haker, Elmarco Janjala, is net so bedrywig. As hy op die stormloop gaan, dan wen ons ente veld,” vertel Van Schoor. Hy voeg by dat hoewel Janjala met ’n effense kniebesering sukkel, dit hom nie sal verhoed om Saterdag sy beste vir sy span op die veld uit te haal nie.
New Orleans moes vanjaar kopkrap rondom die skrumskakel-posisie. Afrigters Lyndon Manas en Ivor Price het vanjaar drie spelers wat in dié posisie kan diens doen.
Uiteindelik het hulle egter besluit om die Boland Cravenweek en SA Akademie-speler, Grant Paulse, hier in te span.
Nog een van die kandidate, Marlin Snyders, kry die kans om te wys wat hy op losskakel kan uitrig, terwyl die derde keuse op nommer nege, Vernon Baadjies, die plaasvervangerbank sal warm hou.
NO spog ook met ’n paar blitsige snellers op die punte en die manne van KN sal veral die regtervleuel, Glenton Cupido, wat vanjaar ook vir die Boland Cravenweek-span uitgedraf het, moet dophou.
Dit is dan ook vanselfsprekend dat New Orleans se kaptein, agsteman Herschall Collins wat vanjaar vir die Boland Akademie gespeel het, baie woelig om die vaste-los sal wees.
“Altwee pakke is maar aan die ligte kant - ek glo hulle sal die game oopmaak en die bal wyd speel,” sê New Orleans se rugby-koördineerder, Hankey Green.
Die hoofwedstryd skop Saterdag om 16:00 op die Faurestraat Stadion af. Die dag se aksie begin om 10:00 met die o.14A-wedstryd.
More
News
|