Roses en Wellington speel gelykop
2009-05-21
HOEWEL Roses United Saterdag die meeste gebiedsvoordeel geniet het teen hul buurspan, Wellington Rugbyklub, kon hulle steeds nie daarin slaag om ’n oorwinning te bewerkstellig nie. Dié twee spanne het uiteindelik met 12-elk gelykop gespeel. Soos nou al soveel kere dié seisoen die geval was, was dit weereens die Rose se voorhoede wat die wa deur die drif getrek het. Hoewel al die voorspelers goed gespeel het, moet Shane Jacobs uitgesonder word vir sy vreesloosheid in die vaste fasette. Sy dekverdediging was ook puik. Agterlangs begin dinge ook beter lyk vir die Rose. Die Rose se afrigtingspan sal egter moet kyk na die balbesit wat onnodiglik afgestaan word met talle doellose skoppe. Die keerpunt in Saterdag se wedstryd het juis gevolg ná so ’n doellose skop. Die Rose se hoofafrigter, Abe Davids, is vol vertroue dat sy manne Saterdag teen Wesbank sal voortbou op hul verbeterde vertoning teen Wellington. Alhoewel Wesbank tans tweede op die punteleer lê, vrees die Rose hulle geensins nie. Die wedstryd sal beslis word op Pelikaanpark in Wellington. Die Rose sal Saterdagaand, na afloop van die Wesbank-wedstryd, ’n fondsinsamelingsfunksie hou by Club 30 Plus in Wellington. Deure open om 20:00.
More
News
|