Landbou ploeg met Gim
2009-05-21
Jaco van Wyk
SOOS in die res van die Boland, was die velde van Hoër Landbouskool Boland ook Saterdag die slagoffer van Moeder Natuur se omgekrapte buie. Met ’n mengelmoes van sonskyn en swaar reënval, het die spanne van Landbouskool en Hoërskool Gimnasium later nie meer geweet of hulle moes skop of hardloop nie, met die tuisspan wat uiteindelik die beste aangepas het by die wisselvallige toestande. Landbouskool het die swaar veld die beste tot hul voordeel benut en het uiteindelik ’n uitstekende 14-12 oorwinning oor die Gimmies behaal. Dit was Gim se tweede agtereenvolgende nederlaag in soveel weke, nadat hulle verlede naweek teen Paul Roos Gimnasium vasgeval het. Gim was verlede jaar die nommer een span in die Wes-Kaap. Landbou, wat lanklaas ’n oorwinning oor hul buurskool van die Paarl behaal het, het hul teenstander voor- en agterlangs ore aangesit. Die rustydtelling was 14-5 in Landbou se guns. Landbouskool se drieë is gedruk deur die senter Werner Joubert en die vleuel Ian Loots. Die losskakel Tiaan Radyn het twee doelskoppe aangeteken. Vir die Gimmies het die flank Christiaan Smit twee drieë behaal. Die losskakel William van Wyk het een doelskop behaal. In ander skole-wedstryde wat onlangs plaasgevind het, het Hoërskool Labori met 3-7 vasgeval teen Bergrivier Sekondêr. Labori het egter met 20-0 afgereken met JG Meiring. Die eerste rugbyspan van New Orleans Sekondêr het die naweek ’n 26-8 oorwinning oor Weston Hoërskool van Vredenburg behaal. * Die wedstryd tussen Landbouskool en Gim was een van die min wedstryde in die Wes-Kaap wat nie Saterdag afgestel was nie as gevolg van die swaar reënval. Hoër Jongenskool se wedstryd teen Wynberg was gekanselleer weens die nat velde in die Kaap. Die Boishaaiers geniet eerskomende naweek ’n loslootjie. Klein Nederburg Sekondêr sou Saterdag ’n sewestoernooi aangebied het, maar dié toernooi is uitgestel om eerskomende Saterdag plaas te vind by KN se sportvelde. Hoërskool Gimnasium speel eerskomende Saterdag teen Sacs in die Paarl.
More
News
|