Kruiedokter vrygespreek na moorde
2005-03-17
’n PAARLSE kruiedokter het hierdie week verstom gelyk toe hy in die Kaapse Hooggeregshof onskuldig bevind is op aanklag dat hy sy vrou en skoonma vier jaar gelede sou vermoor het.
Ben Pienaar (41) is van moord aangekla nadat hy in Mei 2001 met die lyke van die vroue, Juliana Pienaar (21) en Johanna Beukes (47) van Lambertsbaai by sy huis in Maylaan, Wellington, aangekom het.
Pienaar het beweer diamantkopers het die vroue by ’n ontmoetingspunt by Newton geskiet terwyl hy met die egpaar se seuntjie van ses maande ’n ent van die motor af gestap het.
Klein Benzi is deur sy ouma Pienaar in Maylaan versorg nadat sy pa in hegtenis geneem is.
Pienaar is later vrygelaat terwyl die polisie-ondersoek voortgesit is. Die twee vroue is op kort afstand geskiet. Juliana het met drie skote in die nek gesterf, en haar moeder met ’n skoot in die rug.
Pienaar het destyds beweer hy het ’n pruimkleurige motor met ’n Namibiese registrasienommer opgemerk kort nadat hy skote gehoor het. Hy het op die bebloede lyke in sy eie motor afgekom. Sy vrou het op die voorste sitplek geleun. Sy skoonma het op haar maag op die agterste sitplek gelê.
Hy het na sy ma se woning gery vanwaar die polisie geskakel is. Toe hy die polisie na die beweerde moordtoneel vergesel het, het Pienaar ’n donker kol aan sy linkerbroekspyp gehad waar sy vrou uit die voorsitplek oor hom gebloei het
Dit is later bevind dat die 25 stene in 'n handsak nie diamante was, soos bewwe is nie. Sowat R28 000 wat glo in sy skoonma se handsak was, is ook steeds skoonveld.
Ballistiese toetse is gedoen om te sien uit watter hoek die skote afgevuur is.
Die ondersoek het speurders na Lambertsbaai gelei, op die spoor wat die groen BMW die noodlottige dag sou gery het.
Pienaar is daarvan aangekla dat hy die dubbelmoord gepleeg het terwyl die drie tussen Vredendal en Lambertsbaai op pad was. Die staat beweer dat die motief vir die moorde die uitbetaling van die versekering was wat Pienaar op die lewe van sy vrou en skoonma uitgeneem het.
Regter Jerome Ngwenya het die getuienis van die vier staatsgetuies, ook dié van ’n familielid van die vroue dat Pienaar aan hom sou beken het dat hy die moorde gepleeg het, verwerp. Pienaar is weens onvoldoende getuienis vrygespreek.
* A Wellington man has been acquitted of the murder of his wife and mother in law.
More
News
|