Drie diewe gefnuik
2009-05-21
DIE spoedige optrede van ’n op-en-wakker polisieman wat van diens af was, het Saterdagmiddag gelei tot die in hegtenisname van drie vermeende jong diewe. Insp Cassie Carstens en ’n vriend, Piet Lategan, het dié middag omstreeks 15:30 naby die hoek van Kerk- en Cummingsstraat in Wellington gery, toe hulle twee jong seuns in die middel van die straat sien staan het. Een van die seuns het gehuil. “Ek het stilgehou en vir hulle gevra wat fout is. Hulle het ’n tienerseun aan my uitgewys en gesê dat hy vir hulle van hul selfone beroof het. “Die verdagte het saam met nog twee tieners die pad gevat en by die terrein van Huis Navarre ingehardloop.” Polisieversterkings is ingeroep, asook die honde-eenheid, en die drie jong mans is uiteindelik in hegtenis geneem op die terrein van Navarre. Daar word vermoed dat hierdie tieners verantwoordelik is vir nog verskeie ander insidente in Wellington se middedorp. Die drie verdagtes is tussen die ouderdomme van 16 en 17, dus mag hul name nie bekend gemaak word nie. * The response of an off-duty policeman led to the arrest of three alleged young thieves in Wellington.
More
News
|