Swendelaars
2009-05-21
Lise Beyers
SWENDELAARS vier weer hoogty by plaaslike kitsbanke. Tydens die afgelope week het ten minste vier mense slagoffers geword van kitsbank-bedrog. Twee persone is by die Standard Bank in Paarl Mall geflous, een by Absa Paarl in Hoofstraat, en nog een by FNB in Vineyard-sentrum, Suider-Paarl. Vermoedelik is hulle slagoffers van ’n sindikaat. Volgens een van die slagoffers wat byna haar kaart kwyt was by Absa Paarl, het sy Vrydagaand na werksure geld vanaf een rekening oorgedra na ’n ander by die kitsbank. “Daar was reeds ’n man by een van die kitsbanke besig, en terwyl ek besig was, het nog een binnegestap. Hy het al om my gedraai. “Toe ek klaar was, het een van die mans vir my gesê dat daar fout met die masjien is en dat ek my kaart weer daarin moet sit. “Hy was beslis nie van hierdie land nie, maar het suiwer Engels gepraat. Hy was baie oortuigend, maar ek het wel onraad vermoed. “Hy het my kaart en strokie by my afgeneem, maar ek het dit teruggegryp. “Kort hierna het ’n weldoener wat onraad vermoed het, ingestap en gevra of daar fout is - albei mans het toe die pad gevat. “Hy het vir my vertel dat hy gesien het dat een van die mans deur ’n venster van buite na binne loer, vermoedelik om my geheime kode te sien terwyl ek dit insleutel.” Die polisie is ontbied en die saak word verder ondersoek. * Net ’n halfuur vroeër, by FNB se OTM in die Vineyard-sentrum in Suider-Paarl, is ’n vrouewynmaker ook deur ’n swendelaar geflous. En die keer het die swendelaar daarin geslaag om haar kaart vir ’n wyle in die hande te kry, en die inligting hiervan te stoor op ’n klein toestel. Later die aand is sy per SMS deur haar bank in kennis gestel dat R2500 uit haar rekening onttrek is. ’n Woordvoerder van die polisie, kapt Louise du Plessis, het gesê dit is duidelik dat kitsbank-gebruikers deur swendelaars geteiken word, en dat die polisie tans alle leidrade ondersoek. ’n Sindikaat van goedgeklede, welsprekende mans vanuit Sentraal-Afrika, is vermoedelik hiervoor verantwoordelik. Die publiek word gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hul van kitsbanke gebruik maak. * ATM users are being targeted by fraudsters.
More
News
|