Vrou aangeval in haar huis
2009-05-21
Lise Beyers
’n VROU van Pleinstraat het die afgelope naweek by die dood omgedraai, nadat sy deur rowers in haar huis aangeval is. Lede van Paarl-Oos polisie het in die vroeë oggendure van Saterdag op ’n verlate wit VW Polo afgekom in Van der Stelstraat. Hulle het die besonderhede van die motor-eienaar nageslaan en die polisie is na die woning van Marianne de Jager (51) in Pleinstraat, Paarl. Daar was geen antwoord toe hulle daar aangeklop het nie. Die polisie is later weer terug na die huis toe, en hierdie keer het hulle skreegeluide van binne hoor kom. Die polisie het toegang tot die huis verkry, en op die bebloede liggaam van De Jager afgekom in haar slaapkamer. Sy is verskeie kere met ’n mes gesteek, en vermoedelik deur die rowers vir dood agtergelaat. Behalwe haar motor wat gesteel is, word ’n skootrekenaar ook vermis. Daar word vermoed dat De Jager Vrydagaand deur rowers oorval is terwyl sy alleen tuis was. By verdere ondersoek is daar vasgestel dat die rowers toegang tot die woning gekry het deur die dak. De Jager is na Paarl MediClinic geneem met ernstige meswonde. Sy ly ook erg aan skok en kon nog nie veel inligting van die gebeure van die aand aan polisie-speurders oordra nie. Dit is bekend dat werkers onlangs herstelwerk aan De Jager se huis gedoen het. Nog ’n woning in Pleinstraat is onlangs rot-en-kaal gesteel, ook kort nadat hiér bouwerk gedoen is. Die polisie waarsku die publiek dat hulle versigtig moet wees wanneer hulle mense aanstel om in hul wonings te werk. Daar moet seker gemaak word dat kontrakteurs kopieë van hul werkers se identiteitsdokumente het, asook ’n bewys van hul woonplek. * Niemand is nog in hegtenis geneem ná die gru-moord kort voor Kersfees op ’n bejaarde vrou van die Paarl nie. Die liggaam van Arlene van der Walt (79) is verlede jaar op 22 Desember in haar skakelhuis te Hoofstraat 100 deur lede van die polisie gevind, nadat haar seun onraad vermoed het. Van der Walt is vasgebind en aangerand. Sy is aan veelvuldige beserings dood. * A woman was attacked and left for dead in her home in Plein Street, Paarl.
More
News
|