Eerste winterstorm tref
2009-05-21
Lise Beyers
WINTER het die afgelope naweek sy kop met mening uitgesteek. Daar is tussen 60mm en 90mm reën gemeet in die Paarl-streek, sedert die wolke Donderdag begin gooi het. Stormsterk winde het oor die gebied gewoed, en die kwik het by tye tot onder 10 grade gedaal. En alhoewel boere juig oor hierdie goeie reëns aan die begin van die winterseisoen, is die gebied nie sonder skade gelaat nie. Talle paaie het verspoel weens verstopte stormwaterpype, waarvan verskeie, veral in Daljosafat, ontoeganklik was vir verkeer. En ná die verwoestende brand wat vroeër vanjaar op Paarlberg gewoed het, is geen weerstand gebied teen die reën nie, weens die fynbos wat verwoes is. Die water het verwoed teen die hange van die berg afgestort. In Bo-Auretstraat was daar ten minste een woning wat hierdeur geraak is. Jane Pentz het omstreeks 09:00 Saterdagoggend gesien hoe modder onderdeur haar agterdeur begin vloei het. “Ek was vreesbevange en het dadelik my honde in my motor gelaai en die pad gevat.” Sy is egter ’n kort ruk later weer terug na haar huis toe, saam met die brandweer. Hulle het sandsakke teen die agterdeure gepak om te keer dat nog modder en water van Paarlberg af deur die huis stroom. Verskeie swembaddens hiér is behoorlik omskep in modderbaddens, weens modder wat vanaf die berg, wat gestroop is deur die onlangse bergbrand, gestroom het. Maar die grootste terugslag is beleef by Hoërskool La Rochelle. Hier is die koshuisvader en -moeder, Wolfie en Colleen Ratz, in die middernagtelike ure wakker geruk, toe ’n reuse-tak van ’n eikeboom bo-op die koshuis-anneksgebou waar hulle woon, te lande gekom het. ’n Gedeelte van die stoepdak is verwoes, en ’n groot gat is in die dak van die gebou geskeur. Hierdie gebou, geleë agter die hoof-koshuis, is in 1880 gebou as die oorspronklike skool. Later jare is hierdie historiese Victoriaanse gebou omskep in ’n koshuis, en dien ook as woning van die koshuisouers. Dit is in die afgelope paar jaar deur Ratz tot sy vorige glorie gerestoureer. Die skade wat Saterdagnag aan die gebou gerig is, word nou op R300 000 geskat. In Courtrai is elektroniese toestelle van verskeie inwoners beskadig, toe ’n weerligstraal Saterdagmiddag dié gebied getref het. Maar vir nou kan die sambrele en waterstewels tydelik weggepak word, want hierdie naweek skyn die son warm met 26 grade wat voorspel word. *The first heavy winter storm has left its mark in the area this past weekend.
More
News
|