Standards haak knoop deur
2009-05-28
YOUNG STANDARDS het Saterdag bloed gesweet om uiteindelik ’n welverdiende oorwinning te behaal oor ’n begeesterde span van Violets Rugbyklub. Violets het hulself goed van hul taak gekwyt en het daarin geslaag om vir Standards bykans die hele wedstryd in toom te hou. Standards het egter vasgebyt en uiteindelik met 12-9 die knoop deurgehak. Met hegte verdediging het Violets veral die die gevaarlike agterlyn van Standards relatief stilgehou. Met twee strafdoele en ’n pragtige skepdoel van bykans 50m deur Tino Prins, het Violets vir die grootste gedeelte van die wedstryd hul neuse voor gehad. Daarenteen het Standards redelike maklike pogings na die pale verbrou. Standards moes teen rustyd tevrede wees met ’n enkele, onverdoelde, drie deur Hennie Johnson, vir die spanne om te gaan rus met die telling 5-9 vir Violets. Dit was eers met die laaste beweging van die wedstryd, ná die bal goed gedra is deur Denvan (Oupa) Arries, dat Dean Hendricks die bal ontvang het, met ’n paar verdedigers oor om te klop, dat die wendrie in die hoekie gedruk is. Bevan Francis het dié drie verdoel vir Standards om met 12-9 te seëvier. Standards se tweedes het 7-5 gewen en die derdes het 26-0 gewen. Saterdag speel Standards op Gardens Park, teen Young Gardens. Violets speel Saterdag weg teen Windmeul United. Die spelers kom by Amstelhof bushalte bymekaar vir vervoer. Die klub bied ook Saterdag ’n hoenderbraai aan. Kos kan vanaf 10:30 by K Dennis se woning te Grebestraat 36 afgehaal word.
More
News
|