Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Waar is Strepies in die winterkoue?

Waar is Strepies in die winterkoue?
 
2009-05-28


NOUDAT die winterkoue by ons is, wonder ek wat van Strepies geword het.

Ek het hom sowat agt maande gelede op straat gesien voor ’n winkel in die middedorp waar hy iets te ete gebedel het. Maar eintlik wou hy liewer ’n paar rand in sy sak hê.

Dié dag het ek weer geweier om vir hom geld te gee, maar wel oudergewoonte ’n halwe brood en melk vir hom gekoop.

“Dankie mies,” het hy met sy hees stem gefluister. Asof hy altyd verkoue het. Ek onthou ons eerste ontmoeting. Ek het daardie dag my motor agteruit geparkeer en my byna doodgeskrik toe ek handjies agter my voertuig sien flap. Dit was Strepies wat sy lyf motorwag gehou het.

Ek het vies uit my motor geklim en wou byna vir hom ’n taai klap gee, maar sy hees stem en skamele kleertjies het my dadelik gekeer. Toe hy vir die eerste keer ’n geldjie vra, kon ek nie help om te glimlag nie, hy het maar heup-hoogte gestaan.

Hy was nie ouer as ses jaar nie.

“Nee jong, vir jou gee ek nie geld nie,” en ek stap aan. Maar terwyl ek in die supermark aandete koop, koop ek tog vir hom ietsie. So het ons brood-en-melk-vriendskap begin.

Eendag vra ek vir hom oor sy bynaam.

“My naam is eintlik Carolus, maar ek weet nie die van nie. My vrinne noem my Strepies, want toe ek nog by die huis was, was my bene altyd vol strepe geslaan.”

So begin die kind se storie stadig ontvou. Tot vandag toe weet ek nie of hy eerlik was nie. Dalk was hy maar net ’n stoute kind wat saam met sy skelm makkers straat toe verlei is.

Hy het gesê hy kom van anderkant die berg. Hy het nie ’n pa nie, maar daar was altyd vreemde ooms in sy ma se kooi, in hul eenkamer-sinkhuisie. As die ooms nie met sy ma baklei nie, dan baklei hulle met hom.

Sy het soms los werkies gedoen en hy het alleen tuis gebly. Hy kan wel vaagweg onthou dat daar eens ’n ouer meisie by hulle gewoon het. Maar eendag het die polisie opgedaag en sy ma het begin huil. Hy het die meisie nooit weer gesien nie.

Daar was nooit geld vir kos nie, maar as daar wel iets was, het sy ma dit aan drank bestee. Toe ontmoet hy die ‘brasse’.

Dié was seuns van net so ’n paar jaar ouer as hy, maar hulle het aansien in die gemeenskap gehad.

Hulle het hom eers mooi uitgekyk waar hy tussen die vullis van die plakkerskamp gespeel het en stadig maar seker is hy in hul kring ingetrek.

Dit was vir hom lekker dae. Daar was altyd iets om te eet en elke dag was pret. Hulle het baie gelag en hy het goed gevoel.

Natuurlik was daar ’n versteekte agenda vir hul vriendskap met Strepies. Aangesien hy die kleinste was, was dit maklik vir hom om agter ’n winkeltoonbank in te kruip en ’n paar pakkies sigarette of iets om te eet of drink te steel.

So het Strepies een van die manne geword. Maar dinge het eendag skeefgeloop, toe die leier van die ‘brasse’, ’n seun ernstig gewond het met ’n mes. Die polisie was op hul spoor en hulle het uitmekaar gespat.

Op ’n leë maag het hy Paarl toe gestap, “dag in en dag uit.”

Hiér was hy eers alleen op straat, totdat hy weer met die ‘manne’ deurmekaar geraak het. Maar dit was harder om hier te oorleef. Meer kompetisie op straatvlak, en die polisie was dikwels op hul spoor.

Die laaste keer toe ek hom gesien het, was dit bitterlik nat en koud. Steeds was hy in kortbroek en kaalvoet en met sy snotneus.

In die tyd dat ek hom geken het, het ek alle raad moontlik gesoek om hom van die straat af te kry. Hy was wel op ’n keer deur maatskaplike dienste geneem na ‘’n plek van veiligheid’. Maar drie weke later was hy weer op straat.

Skielik het hy soos ’n groot speld verdwyn. Ek loop toe een van die ‘manne’ eendag in die straat raak en moes hom letterlik R5 in die hand stop voordat hy ’n woord aan my wou uiter.

“Nee wat, ou Strepies het gaan high-fly in die Kaap. Hy’s hier weg met die bloutrein mevrou. Vir hom sal jy nie weer sien nie.”

Daardie aand toe ek by huis kom, lê my dogter en lees op die rusbank en my seun doen sy huiswerk by die eetkamertafel. Die kaggel knetter en geure van ons aandete dwarrel vanuit die kombuis. Ek was bly om na ’n lang dag saam met my gesin tuis te wees, en hou my kinders styf teen my bors vas.

Maar ek kon nie help om aan klein Strepies te dink nie. Hy is maar net een van duisende straatkinders in die land wat nooit die hart van ’n huis sal ken nie.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za