Wade doen sy praatwerk op die baan
2009-05-28
Jaco van Wyk
DIT is moeilik om te glo dat Suid-Afrika se o.12 fietsryer van die jaar so ’n stil knapie is, want op die baan weet Wade Theunissen presies hoe om sy bande die praatwerk te laat doen. Dit is juis die 11-jarige fietsryertjie, van Rhadsport Fietsryklub, se oorheersing van die WP en SA baankampioenskappe in sy ouderdomsgroep wat van hom Mei-maand se SuperSport Let’s Play Sportster van die maand maak. Wade, ’n graad ses-leerder aan Primêre Skool William Lloyd, ken duidelik nie van silwer en brons nie - of so laat sy baan-prestasies vir 2009 dit blyk. Wade het tydens die WP baankampioenskappe goud verower in die 500m bondelrit, goud in die 1500m bondelrit, asook goud in die 3km bondelrit. Met die uitdaging wat natuurlik ’n paar vlakke hoër is op nasionale vlak, het Wade weereens net goud gesien by die SA baankampioenskappe. Wade het weereens goud ver-ower in die 500m 1500m en 3km-bondelritte, asook goud in die500m tydtoets. Op die SA kampioenskappe het Wade dus ook die trofee ontvang vir die beste o.12 ryer van die jaar. Wade hou ook tans die SA 1500m rekord in die o.10-afdeling wat hy as 10-jarige by die SA kampioenskappe in PE verbeter het. Volgens sy pa, Owen Theunissen, het Wade reeds op 8-jarige ouderdom besluit dat hy wil fietsry. “Ek het vir Wade daardie jaar saam met my geneem om die Boxing Day fietsry by Faurestraat-stadion te gaan kyk,” vertel Owen. Volgens Owen het Wade die storie so gekyk en vir sy pa gesê: “ek sal die laaitjies kan wegry.” “Met sy BMX en ’n paar nommer agt skoene, het Wade toe kom deelneem by die Boxing Day fietsrybyeenkoms, en toe wraggies die ontwikkelingswedren gaan staan en wen.” Volgens Owen is die res geskiedenis, want die volgende logiese stap was toe om vir Wade by ’n fietsryklub, naamlik Rhadsport Fietsryklub, aan te sluit. Volgens Owen is sy seun baie getrou aan sy baan-oefeninge. “Wade mis nie ’n oefening nie. “Wat hom egter die meeste inspireer is sy afrigter, Elric Kulsen. Wade kyk op na Elric se ervaring en wat hy al as SA fietsryer vermag het,” sê Owen. “Lance (Armstrong) en Nolan (Hoffman) is ook my helde,” voeg Wade vinnig by. Volgens Wade geniet hy dit om aan kompetisies deel te neem en beoog hy om fietsry nog lank te beoefen. “Ek sal nog lank wil ry, want ek wil nog baie prestasies behaal.”
More
News
|