Arendsnes help straatkinders
2009-05-28
Christine Siebrits
DIE Arendsnes Straatkinderprojek op Wellington fokus op hoërisiko-kinders, veral vroeë skoolverlaters wat die gevaar loop om by misdaad en dwelms betrokke te raak. Kinders wat bedags op straat bedel en wat op straat woon word ook ingesluit by hierdie projek wat die emosionele, intellektuele, geestelike en sosiale ontwikkeling van kinders bevorder en verantwoordelike optrede aanmoedig. Die diensorganisasie, wat sedert 2001 deur vrywilligers bedryf word, het onlangs ’n groot skenking ontvang van Nedbank nadat hulle aangewys is as een van dié bankgroep se “local heroes”. Vanweë die omvang van Arendsnes se dienslewering is die behoefte geïdentifiseer om by ’n moederliggaam te affilieer en die projek is ook deur NorSa Community Care onder hul vlerk geneem. Koela Pietersen is Maandae tot Vrydae verantwoordelik vir die toesig oor die kinders. Sy gee hulle liefde en aandag, handhaaf dissipline en berei ontbyt en middagete vir die kinders voor. Die weeklikse program sluit basiese geletterdheidsklasse, handvaardighede en maatskaplike intervensie in. Dr James Fredericks van die Calvynse Protestantse Kerk Newton is verantwoordelik vir die geestelike program en Abet-fasiliteerder Lizel Loubser hanteer drie oggende per week die geletterdheidsprogram. Merle Oktober help om hul kreatiwiteit te ontdek en te ontwikkel deur lapverf. Dr Fanie Marais bring ook die latente potensiaal na vore deur kunsklasse aan te bied. Sanca is verantwoordelik vir die rehabilisasieprogram, terwyl Excellent Glas en St Omer Kwekery eenkeer per maand indiensopleiding in glaswerk en tuinbou aanbied. Die vooruitsig is om die kinders besigheidsvaardighede aan te leer, sodat hulle ’n inkomste vir hul gesinne kan genereer. Sportontwikkeling, kulturele aktiwiteite en basiese rekenaargeletterdheid sal ook voortaan in die program geïnkorporeer word. Die organisasie fokus ook op kapasiteitsbou ten einde gemeenskapslede toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om middelmisbruik te minimaliseer indien hul gekonfronteer word met middelafhanklike gesinslede. Die kinders wat deel uitmaak van die program se ouers word ook betrek by intervensie deur middel van ondersteunings- en opvoedkundige groepwerk. Die uittredende bestuurslede wil die gemeenskap bedank vir die volgehoue hulp en ondersteuning en wil hulle aanmoedig om nog steeds betrokke te bly. Besoek hul sentrum by Hoofstraat 83 of kontak Koela Pietersen by 074-327-6618 indien u meer inligting verlang.
More
News
|