Tieners platgery
2009-05-28
Lise Beyers
’n TIENERMEISIE is gedeeltelik verlam gelaat en haar vriendin met ernstige beserings, nadat ’n bestuurder in Springbokstraat, Weltevrede, in hulle geploeg het. Inwoners moes Saterdagaand hulpeloos toekyk toe ’n motor teen ’n hoë spoed by dié straat afgejaag gekom het. Volgens inwoners het die bestuurder “soos ’n besetene gejaag”. Die motor het skielik die pad verlaat en die twee tieners getref terwyl hulle voor ’n huis verbygeloop het. Hulle is etlike meters deur die lug geslinger, waarna die motor deur ’n tuinmuur gebars het tot in die tuin. Een inwoner wat reeds geslaap het, het gesê dat die slag van die botsing so geweldig was, dat sy gedink het dat iemand ’n kanon afgevuur het. Die bestuurder van die voertuig het die motor net daar gelos en die hasepad gekies. Andrewnique Titus (17) het haar sleutelbeen tydens die botsing gebreek, asook gesigsbeserings en ernstige skaafbeserings opgedoen. Sy het uit haar bed vertel dat sy glad nie weet wat gebeur het nie. “Ons het nog die een oomblik huis toe geloop en die volgende oomblik het ek wakker geword in ’n tuin, met talle mense wat om my staan. “My gesig het baie warm gevoel, en toe ek daaraan vat, was dit die ene bloed.” Titus se niggie, Christal Williams, se een been is op drie plekke gebreek en sy het ’n nekbesering opgedoen wat veroorsaak dat haar ander been lam is. Dit is tans onseker hoe permanent die verlamming is. Sy word steeds in die Paarl Hospitaal behandel terwyl Andrewnique tuis aansterk. Die bestuurder van die motor het Sondagoggend by hul woning in Rudolfstraat 1 aangeklop om verskoning te vra en vir die twee meisies elkeen ’n pakkie aartappelskyfies geneem. Maar hulle families vind hierdie gebaar onaanvaarbaar en eis dat die polisie verdere stappe teen hom neem. Die verdagte, ook van Weltevrede, is steeds op vrye voet. * Two teenagers were seriously injured when a motorist ploughed into them.
More
News
|