Diewe draf nou winkels kaf
2009-05-28
Lise Beyers
MISDADIGERS het die afgelope naweek die gebied kafgedraf deur by verskeie besighede in te breek. Ten minste vier besighede is derduisende rande uit die sak gejaag nadat hulle deur die loop van die naweek beroof is. Die stropery het klaarblyklik Saterdagnag begin, toe diewe die slotte van ’n staalhek by Big 5 Drankwinkel in die Metropolitan-sentrum, Paarl, afgebreek het, ’n glas paneel in die deur stukkend gegooi het, en weg is met handevol pakkies sigarette. Hulle het per motor gevlug enkele oomblikke voordat sekuriteitswagte op die toneel gekom het. Sheila Diedericks van Big 5 het gesê dat dit die vierde keer binne twee maande is dat hulle deurloop onder inbrekers. “Elke keer is dit net sigarette wat gesteel word, veral pakkies Rothmans en Peter Styvesant. En elke keer dat hier ingebreek word, is die sekuriteitswag van die sentrum spoorloos. “Maar ons het nou die sekuriteitshekke wat keer op keer oopgebreek word, toegesweis. Boewe sal nou maar sukkel om hier in te kom.” Sondagnag was dit die beurt van Spar in Kerkstraat, Wellington. Hier is die deksel van ’n stormwaterafvoergat eenvoudig deur ’n enorme venster aan die voorkant van die winkel geslinger. Hulle het ingeklim en streepsakke vol sigarette gepak. Hulle is ook vort kort voordat die sekuriteitsbeamptes op die diefalarm kon reageer. En vroeg Maandagoggend het Edgars in Lady Greystraat, Paarl, ook deurgeloop. Om 06:30 het diewe hier ’n ruit uitgegooi, ’n hele rak vol klere gegryp en die pad gevat. Lede van Paarl polisie is hiervan in kennis gestel en onderweg na die toneel, het hulle ’n verdagte voertuig opgelet. Hulle het die motor probeer stop, maar die bestuurder het weggejaag in die rigting van die N1 suid. Hierna het ’n jaagtog op die N1 ontstaan tussen die polisie en die voortvlugtiges. Die hulp van die Klapmuts polisie is ook ingeroep. Uiteindelik is die voertuig tot stilstand gebring by die Klipheuwel-afrit en drie verdagtes van Kraaifontein is in hegtenis geneem. Hulle het Maandag in die Paarl Landdroshof verskyn. Die polisie ondersoek tans alle leidrade om vas te stel of hierdie mans betrokke was by die ander inbrake. By Paarl Auto Panel in Westhovenstraat, Paarl, is daar Saterdagaand ’n venster van ’n kantoor gebreek en die diefwering oopgesny. ’n Skootrekenaar en kamera is gesteel. * Businesses in Paarl and Wellington suffered at the hands of burglars during the past weekend.
More
News
|