NA aanleiding van ’n brief wat in 28 Mei se Paarl Post verskyn het, net die volgende.
Dit is verstommend hoeveel klagtes daar deesdae oor swak diens in ons land is. Ek het na ’n paar ou koerante uit die jare tagtig gekyk, en kon nêrens briewe kry waar daar oor swak dienste gekla is nie.
Volgens die liberaliste gaan dit glo vreeslik goed in die Nuwe Suid-Afrika. Hulle “verlang” geensins terug na die ou Suid-Afrika nie.
Ek wonder wat sal hulle sê as hulle so, vir ’n week lank, of sê maar ’n maand, in die ou Suid-Afrika kon leef, en dan weer skielik terug in die jaar 2009.
Gelukkig is die Wes-Kaap (tydelik?) in die hande van die DA, en sal dinge hopelik ’n klein bietjie verbeter, maar onthou, die nasionale regering is nog steeds ANC, en oor die lang termyn sal dit net slegter gaan.
Dus, diegene wat gehoop het op ’n beter toekoms, vergeet daarvan. Swak diens is hier om te bly.