Roses United ly skok-nederlaag
2009-06-04
ROSES UNITED het verlede Saterdag naelskraap op Ceres met 6-8 verloor teen die Premierliga-agterosse, Delicious. Die Rose moes vir 20 minute met veertien spelers klaarkom as gevolg van geelkaarte vir ontoelaatbare spel. Ten spyte van knaende geniepsige spel deur die Delicious-spelers, het geeneen van hul spelers geel- of rooikaarte ontvang nie. Die wedstryd self was as gevolg van die koue, nat toestande nie ’n skouspel nie. Die Rose se agttal het goed begin, maar naderhand begin stoom verloor. Die geelkaarte wat Shane Jacobs en Ignatius Korabie ontvang het vir ontoelaatbare spel, het dinge beslis nie makliker gemaak vir die Wellingtonners nie. Voorlangs het Franzil September ’n barshou vir die besoekers gespeel. Agterlangs het die Rose se treurmare egter voortgeduur. Die agterlyn kon, ten spyte van die baie balbesit, net nie aan die gang kom nie. Harde werk lê vir die Rose se agterspelers voor indien hulle hul plekke wil behou vir die tweede ronde van die kompetisie. Die Rose pak eerskomende Saterdag die span van Abbottsdale op Pelikaanpark in Wellington. Abbottsdale speel tans baie goeie rugby en sal vir seker die Rose tot die uiterste beproef. Die eerste wedstryd skop om 13:30 af.
More
News
|