Paarl Rugbyklub terug op stryk
2009-06-04
PAARL RUGBYKLUB se eerste span het Saterdag vir Hamlets met 35-14 in Mamre geklop en in die proses vyf drieë gedruk. Paarl het aanvanklik gesukkel om op dreef te kom en het boonop hul staatmaker slot binne die eerste 10 minute met ’n ribbesering verloor. Die span het gaandeweg beter begin speel, met die voorspelers wat oudergewoonte baie goed geskrum het. By een geleentheid is ’n strafdrie aan Paarl toegeken toe Hamlets op hul eie doellyn nie hul besoekers se skrum wettiglik kon stuit nie. Paarl se voorspelers het ook as eenheid baie goed gevaar in dryf- en maalbewegings. Hamlets het deurgaans probeer om Paarl met onwettige metodes te intimideer, maar gelukkig was die skeidsregter van hoogstaande gehalte en het nie gehuiwer om teen die tuisspan se spelers op te tree nie. Twee geelkaarte en ’n rooikaart is teen Hamlets uitgedeel. Aan die ander kant was Paarl se dissipline deurgaans baie goed. Jan Rautenbach was rotsvas met sy verdediging op binnesenter en het later goeie rigting aan die agterlyn gegee toe hy losskakel toe verskuif is. Hy was welverdiend aangewys as die speler van die wedstryd. Renier Bester (buitesenter), Jaco Immelman (heelagter) en Eugene Francis (skrumskakel) het ook baie goeie spel gelewer. Voorlangs het die vinnige flank, Edwin Conradie, baie goed gevaar. Paarl se ander drieë is gedruk deur Francis, Conradie, Immelman en die agsteman, Lionel Hugo. Paarl se doelskoppe is behaal deur Jacques Hendricks (losskakel 2) en Clive Samuel (vleuel 3). Paarl Rugbyklub gaan tans erg gebuk onder beserings, met die gevolg dat die laer spanne se spelers kwaai uitgedun is. Die tweede span kon egter steeds met 22-15 wen, maar die derdes het die knie gebuig met 8-15. Paarl speel eerskomende Saterdag teen Elsiesrivier op Faurestraat-stadion. * Paarl se o.20 span het UCT (C) Saterdag in Parow met 52-5 geklop. Soos die telling daarop dui was dit ’n baie eensydige wedstryd en die telling kon nog groter gewees het as die skeidsregter enige idee gehad het hoe om die reels in die losskrums toe te pas. Soos gewoonlik het die Paarliete se voorspelers voorlangs gesag afgedwing en die agterspelers het klinies afgerond. Martin Barnard (linkervleuel) was weer skitterend op stryk en het drie drieë gedruk. Die ander drieë is gedruk deur Ludolf Pretorius (regtervleuel), Pieter-Andries Basson (heelagter), Martin Verhoeven (senter), Darryl Heyns (skrumskakel) en Tobias Oosthuizen (haker). Die losskakel Louis Schlechter het ses doelskoppe oorgeklits. Darryl Heyns was die speler van die wedstryd. Paarl speel Saterdag weg teen Watsonia. Nuwe spelers is welkom om Dinsdae en Donderdae om 18:30 vir oefeninge aan te meld.
More
News
|