Riverstones verstewig posisie bo-aan punteleer
2009-06-04
RIVERSTONES RUGBYKLUB het hul posisie bo-aan die punteleer van die Paarl Streekliga verstewig toe hulle Saterdag maklik klaargespeel het met die gedugte span, Laer Paarl. Riverstones het met 28-0 koning gekraai oor die Blues. Die grondslag van dié oorwinning was beslis deur Riverstones se voorspelers gelê, wat in alle afdelings oorheers het. Met sy voorhoede op die voorvoet, is die haker Morne Hefca beloon met die eerste drie van die wedstryd. Riverstones se lostrio het ook uitgeblink met hul aanvallende spel, met die losvoorspeler Ashley ‘Varkie’ Swarts wat self sy naam op die telbord gevoeg het met ’n drie onder die pale. In die tweede helfte het Riverstones meer balbesit geniet en het hulle gebruik gemaak van hul vinnige agterlyn om ver ente veld te wen. Stones se twee blitse, Chris Mouwers en Jeremy van Neel, was die manne wat beloon was met die laaste twee drieë van die wedstryd, wat uiteindelik ook die doodskoot was vir Blues. Denovan Hougaard het geslaag met twee strafskoppe en een doelskop. Riverstones se tweede span het 13-6 gewen en Riverstones se derdes het 22-10 gewen. Riverstones speel eerskomende Saterdag teen Simondium op die Dal.
More
News
|