Krag skok
2009-06-04
Sieb Sieberhagen
VLOERMOERE is ’n bekende gesig by betaalpunte waar Drakensteiners koopkrag aankoop. Honderde huurders was al goed die josie in wanneer krag aangekoop word en hulle dan teleurgesteld moes omdraai. Dis omdat tot 80% deur die koopkragstelsel verhaal kan word vir agterstallige eiendomsbelasting. So sit aankopers met baie minder krageenhede as waarvoor hulle beplan het. “Min mense weet dat die munisipaliteit die agterstallige belasting outomaties kan verhaal,” vertel ’n toonbank-assistent in Wellington. “En dit gebeur baie. Mense kom koop R200 se krag en dan stap hulle hier weg met net 20 eenhede. “Ek kan nie herhaal wat party van hulle dan kwytraak nie. Mens kan dit verstaan, want baie huurders het dit nie breed nie,” vertel sy. Die munisipaliteit beaam dit. “Ja, ons kan die huurder of die bewoner van die eiendom vir die eienaar se uitstaande rekening verantwoordelik hou,” sê May Carolissen, hoof van kommunikasie van Drakenstein Munisipaliteit. “Wetgewing wat in 2004 uitgereik is, bepaal dat munisipaliteite dit wel mag doen,” sê sy. ’n Ontevrede huurder, Charl du Plessis, sê: “Al wat ek doen, is om daardie uitstaande geld maar van my huurgeld af te trek. “Alhoewel die wet dit toelaat, is dit nie regverdig dat dit die huurder se probleem raak nie.” Du Plessis was onlangs buite homself toe hy R300 betaal, en net 30 eenhede krag ontvang het, “skaars genoeg vir ’n oggend se krag,” het hy geraas. “Ek het toe gegaan en die uitstaande erfbelasting van R1900 gaan betaal. Ek trek dit net af van my maandelikse huur. Maar iemand steel my geld. Ek wil nog steeds die R300 terug hê wat ek aanvanklik betaal het. “Toe ek navraag by die munisipaliteit doen, het ’n amptenaar gesê dat ek so pas R300 verloor het,” sê hy. Agente wat eiendom verhuur moet ook in hulle pasoppens wees, want uitstaande geld kan ook van hulle verhaal word. Die wet bepaal dat dit gedoen kan word nadat die agent skriftelik daarvan in kennis gestel is. * Drakenstein residents are not happy that pre-paid electricity money is being taken by the Municipality to cover property tax in arrears.
More
News
|