Broekskeur
2009-06-04
Jaco van Wyk
TERWYL die twee seunskole van die Paarl, Höer Jongenskool en Hoër Landbouskool Boland, Saterdag geswoeg het, maar tóg goeie oorwinnings behaal het oor hul onderskeie opponente, kon Hoërskool Gimnasium nie die knoop deurhak op sy tuisveld nie. Die Gimmies het twee naweke gelede ’n oortuigende 31-0 oorwinning oor Sacs behaal, maar kon dié wenmomentum nie oordra na Saterdag se wedstryd teen Wynberg nie, toe hulle die knie met 10-15 gebuig het. Ondanks ’n reuse poging aan die einde van die wedstryd, kon Hoërskool Gimnasium nie ’n oorwinning op hul tuisveld bewerkstellig nie. Swak hanteerwerk op kritieke tye was uiteindelik Gim se ondergang en het weerhou dat hulle enige momentum op die aanval kon kry. Met ’n veel beter poging in die tweede helfte was Gim egter steeds in ’n posisie om dié wedstryd te beklink, maar swak korrelwerk na die pale het die Gimmies in die steek gelaat. Hoër Jongenskool moes Saterdag hard veg om ’n weg-oorwinning oor Rondebosch te behaal. Die Boishaaiers het 18-13 geseëvier ná hulle rustyd met 13-8 voor was. Hoër Landbouskool Boland moes self uithaal en wys, veral op die verdediging, om met 6-0 te seëvier oor Sacs. Landbouskool se voorspelerspel was uiteindelik die deurslaggewende faktor. Die rustydtelling was 0-3 vir Landbou. Die Stellenbossers, Paul Roos, het op hul beurt vasgeval teen Bishops (17-27). In ’n Boland skole-wedstryd het New Orleans Sekondêr vir Bergrivier met 37-7 geklop. Klein Nederburg Sekondêr het op hul beurt taaier teenstand ontvang vanaf Paulus Joubert Sekondêr. KN het egter steeds met 15-13 geseëvier. Hoërskool Labori het 19-25 vasgeval teen President, ná die Paarliete rustyd nog ’n voorsprong van 14-3 gehad het. Hoërskool Hugenote van Wellington het verlede naweek net-net vasgeval teen HTS Drostdy. Die eindtelling was 24-26.
More
News
|