EEK is al die laaste vyf maande werkloos en het geen vorm van inkomste nie. Ek het my werk op 23 Desember 2008 verloor en basies alles verloor.
Op 2 Februarie het ek aansoek gedoen vir UIF te Paarl kantoor (hulle diens is glo flink en ek het daardie tyd by familie in Wellington gebly).
Die nodige dokumente (UI19, bankbesonderhede ensovoorts) is aan hulle gegee. Hulle het met geen dokumentasie fout gevind nie en die vorms ontvang en my verdere vorms laat teken.
Daar is gesê om die aansoek te verwerk neem agt weke. Ek moes aanmeld by die kantoor om te “kom teken” aan die einde van Maart – nodeloos om te sê daar was nog niks op hulle sisteem nie. So moes ek weer op 29 April gaan teken. Daar is nog steeds niks op die stelsel nie.
Dan is die UI19 uitstaande, ’n leuen, dan weer die bankbesonderhede, ’n leuen. Elke tweede dag word gebel, mense bel jou nie terug nie, ek kry geen dokumentasie in die pos nie. Die hoof van die kantoor, bel ook nie terug nie. Jy kry net geen samewerking van niemand.
Jy hou gemiddeld 16 minute aan, word of afgesny, hulle kom nie terug na jou op die skakelbord nie of sny jou af. Ek verlaat my nou op die media, want ek is radeloos.
Ek is tans onder debietberading en hulle kan nie langer vir my uitstel kry nie. Ek staan nou ’n kans om my motor ook te verloor. Ek het dringend die geld nodig en volgens wet is ek geregtig daarop.