EEK is hoogs bekommerd, amper siek eintlik, want ek het op 20 Mei die Patriotplein-kliniek in die Paarl besoek.
Dit was kort na 16:00, 16:05 om presies te wees, toe ek daar inloop. Ek word amper geïgnoreer (ek is die enigste kliënt daar), maar as ek nie eerste gepraat het nie, het die twee verpleegsters maar voorgegee dat daar geen mens was nie.
Ek dink toe dis nou my geluk. Ek wou eintlik net weet hoe dit werk om voorbehoedmiddels in die hande te kry en wat ek moes doen.
Die antwoord was: “U moet eers ’n swangerskaptoets bring voor ons vir u kan help.”
Ek wou toe weet maar wanneer het hierdie nuwe verwikkelinge gebeur en hoekom lig die Departement van Gesondheid mens nie in nie, maar ek was uit die veld geslaan. Ek wil dan juis verhoed dat ek swanger raak!
Ek vra toe hoe laat hulle toemaak en die dame sê halfvyf. Ek dink toe ek is besig om te steur en wou toe maar ’n ander dag terugkom. Haar antwoord toe ek op my horlosie kyk, was: “Ons is nou klaar met ’n vergadering en is nou almal op pad huis toe.”
Ek dag julle maak halfvyf toe?
“Wel dit is nou te laat.”
Moes ek swanger wees vir voorbehoedmiddels of was ek nou maar een van daardie kliënte wat weggewys was omdat hulle wou huis toe gaan?
Ek is ’n ma van drie gesonde kinders, en geen mens (tiener of enigiemand) wil so behandel word nie. As jy nie lus is om my te help nie, sê dan wanneer ek moet terugkom.
Dit raak beter. Ek is van Patriotplein na die Du Pre-kliniek by die tennisbane. Dit was so 16:25 en ek vertel van my ondervinding. Hulle het geen moeite ontsien om my te help nie.
Hulle was stomgeslaan deur die nuwe “reël” wat ingebring is, sonder dat hulle in kennis gestel is.
As jy nie ’n diens aan die gemeenskap wil lewer nie, kry vir jou ’n ander werk.
Geen wonder tienerswangerskappe neem toe nie, want ons diensverskaffers is te selfsugtig en vind dit ’n las om iemand te help vir vyf minute.Geen toets, geen voorbehoeding