Saak sloer steeds
2009-06-11
MARTHINUS GOUWS, wat hom na bewering as ’n regsverteenwoordiger voorgedoen het en tereg staan op aanklagte van bedrog, gaan vertoë aan die Direktoraat van Openbare Vervolging rig dat hy nie vervolg moet word nie. Gouws, wat Vrydag in die Paarlse Streekhof verskyn het, se saak was op die rol vir pleit en verhoor, maar is as gevolg van dié aansoek uitgestel. Streeklanddros N Smile het haar misnoeë oor die aansoek uitgespreek omdat getuies van Lutzville gereis het om te getuig en omdat die saak reeds so lank op die rol is. Sy het gesê dit kom voor dat die beskuldigde die saak wil vertraag. Smile het die beskuldigde gewaarsku dat indien hy weer van prokureur sou verander, dit gesien sal word as ’n taktiek om die hofverrigtinge te vertraag. Sy het gesê dat dit onregverdig is vir die getuies wat so ver moet reis en wat die dag uitsit om die hofsaak by te woon. Gouws word daarvan beskuldig dat hy aan die ouer van ’n beskuldigde in ’n Vredendalse moordsaak voorgegee het dat hy ’n ooreenkoms met ’n advokaat het, waarvolgens hy as agent vir hom optree. Gouws, van “Gouws & Gouws Konsultante”, is R11 050 deur die moeder van die beskuldigde betaal om ’n regspan bymekaar te bring wat haar seun sou verdedig in sy moordsaak. Die saak is uitgestel vir pleit en verhoor op 14 Augustus.
More
News
|