Inwoners geskok oor elektriese tariewe
2009-06-11
Sieb Sieberhagen
DIE verhoging van elektrisiteitstariewe met 31%, wat vanaf Julie in werking tree, gaan inwoners van Drakenstein die rieme nog dunner laat sny. Dalk kan Drakensteiners hulle gelukkig ag om nie 34% meer te betaal soos wat nasionaal voorgestel word nie. Inwoners bly geskok oor die verhoging en baie met wie Paarl Post gesels het, was glad nie tevrede met die toedrag van sake nie. “Is hier dan nie ’n belastingbetalers-vereniging wat sulke goed kan beding nie. Iets moet omtrent dit gedoen word,” het ’n ontstelde inwoner sy mening uitgespreek. Intussen moet inwoners duim vashou dat die voorgestelde 31%, wat tydens voorverlede week se raadsvergadering aanvaar is, wel deur die nasionale energiereguleerder (Nersa) aanvaar word. Indien hulle dit afkeur, sal Drakensteiners ’n 34% styging te wagte wees. Die DA het wel tydens die begrotingsvergadering met ’n amendement probeer om die styging van 31% hok te slaan. Hulle het ’n 25%-verhoging voorgestel, maar die amendement is nie aanvaar nie. Die 2009/2010 begroting tree wel vir behoeftiges in die bresse. Hulle kry 100 eenhede krag gratis per maand terwyl werklose mense 150 eenhede gratis kry. Plaaswerkers kwalifiseer ook vir 100 gratis eenhede. * Residents of Drakenstein are still shocked after the electricity tariff increase of 31% was announced two weeks ago at the annual budget meeting of the Drakenstein council.
More
News
|