Trop hande teister plase om Paarl
2009-06-11
Lise Beyers
’n HOND mag ’n mens se beste vriend wees, maar dan kan hy ook in ’n mens se grootste vyand ontaard. Dit het grondeienaars van die landelike Klein Drakensteingebied oos van die Paarl op die harde manier geleer, met groot skade wat tans aangerig word deur ’n trop rondloperhonde. Onlangs is ’n boerbok hier op ’n plaas verskeur deur ’n trop honde, ’n stoetperd is aangeval, en ’n plaasbestuurder is self byna aangeval. Een boer, wat nie sy identiteit bekend gemaak wil hê nie, het gesê dat die situasie buite beheer geraak het. “Tans is daar ’n hondetrop hiér van ongeveer nege wat die omgewing terroriseer. “Ons beeste word gereeld snags aangeval, en selfs bedags wanneer werknemers nie in sig is nie. “Hulle beweeg van plaas tot plaas en toon aggressie teenoor grondeienaars wat vir hulle probeer verjaag.” Inwoners is dit eens dat as daar nie ’n daadwerklike oplossing vir hierdie situasie gevind word nie, hulle genood sal wees om hierdie honde te skiet. “Dit is net ’n kwessie van tyd totdat ’n mens deur hierdie honde verskeur gaan word.” Maar tans vind ’n moddergooiery plaas oor op wie se skouers die verantwoordelikheid van hierdie kwessie lê. Volgens die Paarl DBV is dit die Munisipaliteit se plig om hierdie saak te hanteer. “In hul grondwet en die Hondebelastingordonnansie 19 van 1978, berus die verpligtinge betreffende die beheer van diere by die Munisipaliteit. Dit sluit in die hantering van rondloperdiere, diere op straat en diere met aansteeklike siektes. “Die DBV is slegs ’n skut, wat ook basiese mediese dienste aan diere verskaf.” Maar die Drakenstein Munisipaliteit voer aan dat hulle vir die DBV teen betaling gebruik om sulke probleme op te los. “Dit is wel so,” verduidelik Groenewald, “maar tans skuld hulle vir ons R10 940 vir Maart en April alleen. “Weekliks besoek die munisipale dierebeheerbeampte vir ons en verduidelik dat die base nie wil hê dat hy rondloperdiere moet laai nie, want daar word aan hom gesê dat daar nie fondse is nie.” Dus het die Drakenstein steeds ’n geweldige probleem met rondloperdiere. ’n Voormalige voorsitter van die DBV het gesê dat hiér word honde toegelaat om soos konyne aan te teel. “Dit lei direk tot hierdie krisis, asook mishandelde en ondervoede diere. “Volgens Munisipale wetgewing mag een huis slegs twee honde aanhou en dan moet tewe gesteriliseer word. “En alhoewel honde steeds gelisensieerd moet word, word hierdie wysiging geensins deur die Munisipaliteit toegepas nie. “Hierdie nalatigheid is ook ’n vorm van dieremishandeling.” * Packs of dogs are causing chaos on farms.
More
News
|