HJS steeds onoorwonne in WP
2009-06-11
Jaco van Wyk
TWEE spog-oorwinnings, en nogmaals ’n skok-nederlaag deur verlede jaar se top-skool in die Wes-Kaap, is die kort en lank van Saterdag se skolerugby-uitslae, wat plaaslike skole aanbetref. Hoër Jongenskool is na Saterdag se oortuigende sege van 31-12 oor Bishops een van slegs twee skole (saam met Hoërskool Tygerberg) wat steeds onoorwonne is in die Premierliga van WP se o.19A-rugbykompetisie. HJS se teenstanders is gewoonlik nie ’n maklike opponent nie, veral nie op sy tuisveld in die Kaap nie. Bishops het ook nie dit maklik gemaak vir Boishaai nie, met die rustydtelling 12-elk. Die Paarliete beskik egter oor ’n span wat weet hoe om gesag voorlangs af te dwing, en teen dié Engelsmanne was HJS se resep vir sukses weereens ’n wenner - veral in die tweede helfte toe Boishaai 19 onbeantwoorde punte aangeteken het. Op Landbouskool se velde, het die tuisspan gemaklik geseëvier teen HTS Drostdy. Hoër Landbouskool Boland het vier drieë gedruk teen die besoekers se twee drieë, om ’n oorwinning van 27-14 te behaal. Teen rustyd was Landbouskool reeds in beheer van sake met die telling 22-7 vir die wenspan. Met hul toer na Outeniqua het Hoërskool Gimnasium ietwat van ’n skok-nederlaag gely met 15-18. Hoewel Outeniqua ’n gehalte-span is, sou die Gimmies as die gunstelinge beskou word om dié wedstryd te wen. Met rustyd was die twee spanne gelyk met 8-elk. In Wellington het Hoërskool Hugenote lag-lag klaargespeel met hul opponente, Schoonspruit Sekondêr. Die Wellingtonners het met 33-3 geseëvier, ná hulle rustyd reeds met 18-3 voor was. In die Paarl het New Orleans kleigetrap teen Stellenberg met 12-29. New Orleans was rustyd met 7-14 agter.
More
News
|