Modderbad: Bergbrand se nagevolg tref huise
2009-06-11
Lise Beyers
TEN spyte van doelgerigte pogings deur die Drakenstein Munisipaliteit om erosiebeheer toe te pas op Paarlberg, het daar reeds verskeie modderstortings plaasgevind sedert die begin van die reënseisoen. Die ergste hiervan was die afgelope naweek toe tonne modderwater die erf van Ada Cloete in Bergstraat binnegestroom het, en nie net haar swembad en hele erf oorrompel nie, maar ook haar huis binnegesypel het. “Toe ons Saterdagaand vanaf ’n konferensie in Johannesburg terugkeer, het modder by ons voordeur uitgeloop. Ons huis was enkeldiep daarin. “Ons honde, wat in die kombuis en braai-area geslaap het, was koud en nat en orals was spore op die toonbanke van die kombuis soos hulle uit die modder probeer ontsnap het.” En dit was nie al nie. Toe die Cloetes na buite gaan, het hulle gesien dat hulle swembad in ’n modderbad ontaard het. Daar was nie veel wat hulle daardie tyd van die aand kon doen nie, behalwe om dadelik die huis leefbaar te probeer maak. Die volgende oggend is die Munisipaliteit ontbied, en hulle het gehelp om vragte modder te verwyder. Drie brandweerbeamptes het die modder uit die swembad begin pomp, maar die werk is later die oggend gestaak. Die Cloetes het ondersoek ingestel om die rede vas te stel waarom die water en modder deur hulle erf gespoel het. Die afloop van die bergwater word hier gelei na ’n stormwater-aflooppyp, wat onderdeur die Cloetes se erf na die Bergrivier gaan. Munisipale werkers het egter verlede maand takke hier uitgekap en die takke net so laat lê, wat die vloei van die water verhinder. Toe dit verlede week begin reën het, veral met die swaar neerslae Vrydagaand, het die water ’n alternatiewe roete gevind, en sodoende in die Cloetes se huis beland. En terwyl hulle Maandagoggend op die hulp van die Munisipaliteit gewag het om hul swembad klaar uit te pomp, is die gesin in kennis gestel dat die Munisipaliteit nie verder sal help nie. Die Cloetes het ’n kwotasie ontvang van ’n plaaslike swembadmaatskappy vir die uitpomp van die modder, en tot hul skok, is die koste hiervan R50 000. “So gaaf en hulpvaardig soos wat die Munisipaliteit Sondag was, het dit alles Maandagoggend soos mis voor die son verdwyn. “Dit is juis die nalatigheid van munisipale werkers wat die skade in die eerste plek veroorsaak het. Die minste wat hulle kan doen, is om dit klaar op te ruim.” ’n Woordvoerder van die Munisipaliteit het gesê dat hulle die nodige voorsorgmaatreëls getref het en betreur die skade aan private eiendom, maar hierdie skade is die eienaar se verantwoordelikheid. * A property in Berg Street suffered severe water and mud damage during last week’s heavy rain.
More
News
|