Young Gardens verloor in doodsnikke teen Allandale
2009-06-11
IN ’n wedstryd wat in die laaste minuut beslis is, het Allandale vir Young Gardens naelskraap met 12-11 gewen. Die wedstryd is teen ’n vinnige pas gespeel en dit was van die begin af duidelik dat die wedstryd onder die voorspelers uitgespook sou word. In die eerste helfte het Gardens se voorspelers skitterend gespeel en Allandale onder geweldige druk geplaas met hul dryfbewegings waarmee hul ver ente veld gewen het. Allandale moes tydens dié helfte net verdedig, maar het eerste punte aangeteken met ’n skepdoel deur Ruan Nel (linkervleuel). Na twee agtereenvolgende oortredings deur Allandale het Justin van Schoor en Ashwill Abrahams elk met ’n strafdoel geslaag om die telling 6-3 te maak. Gardens het net voor rustyd ’n aanval uit hul eie gebied begin, waar hul voor- en agterspelers goed hanteer en ondersteun het. Dit het gelei tot ’n onverdoelde drie deur Jacques Bothma om die rustydtelling op 11-3 te staan te bring in Gardens se guns. In die tweede helfte het Allandale met nuwe vuur gespeel en Gardens gekonfronteer met hul eie spel. Allandale het met die verloop van die wedstryd twee strafskoppe gekry wat deur Wade Engel deur die pale geklits was om die telling 11-9 te maak. In die laaste minuut het Allandale ’n vaskop gehaak en ’n aanval geloods wat diep binne Gardens se kwart gebied geëindig het. ’n Losskrum het ontstaan en uiteindelik was Gardens gestraf vir vir ’n oortreding. Wade Engel het die strafskop oorgeklits om aan Allandale ’n oorwinning van 12-11 te besorg. Uitblinkers aan Gardens se kant was Heinrich Afrika en Isaac de Jager. Onder die voorspelers was Ettiene Ruiters, Ashley Jacobs (albei vleuels) en Dawid Fillander (heelagter) baie sterk op die aanval en verdediging. Vir Allandale het Kunene goeie spel gelewer en gereeld omgekeerde besit bewerkstellig waarmee Allandale aanvalle kon loods. Engel se skopskoen was goud werd vir sy span. Gardens se tweede span het die eerste rondte onoorwonne afgesluit deur Allandale met 39-7 te klop. Gardens se derde span het met 10-7 geseëvier. Gardens se volgende wedstryd is 20 Junie teen Pêrel United op Daljosafat.
More
News
|