Newton Villagers klop Young Blues
2009-06-11
DIE Villagers Rugbyklub, van Newton, moes Saterdag veg om ’n 10-8 oorwinning oor Young Blues van Wellington te behaal. In ’n wedstryd waar daar geen genade getoon was nie, het die twee spanne mekaar behoorlik opgedreun. Blues het vroeg in die eerste helfte reeds die voortou geneem en teen rustyd het hulle ’n voorsprong van 8-3 gehad. Met rustyd het Villagers se afrigter hard met sy manne gepraat, met die resultaat dat ’n meer gemotiveerde span sy verskyning op die speelveld gemaak het. Danksy goeie voorspelerspel kon Villagers in die tweede helfte ’n verdoelde drie behaal - net genoeg om die wa deur die drif te trek. Villagers se voorhoede het gedurende dié helfte die Blues talle meters teruggedryf. Met spelers soos Beer Jantjies, Guss de Klerk en Beeza Arries op hul allerbeste vir Villagers, het Blues geen antwoorde gehad nie. Villagers se puntemakers was Anthony Pietersen (1 drie) en Bjorn Hollenbach (1 strafskop en ’n doelskop). Villagers speel Saterdag weg teen Wamakersvallei. Vervoer vertrek 13:30.
More
News
|