Pniel struikel wéér
2009-06-11
IN ’n taai wedstryd wat hoofsaaklik onder die voorspelers uitgespook is, het Kuilsrivier Saterdag daarin geslaag om die tuisspan Pniel Villagers met 11-6 te klop. ’n Swaar, nat veld het enige aanskoulike hardlooprugby in die wiele gery en albei spanne het meestal vir gebiedsvoordeel geskop, met die gevolg dat die grootste gedeelte van spel tussen die twee en twintig meter gespeel was. Met ’n skeidsregter wat beslis nie opgewasse was vir so ’n titaniese stryd nie, kon die wedstryd nooit werklik aan die gang kom nie, weens talle straf- en vryskoppe. Altesaam veertig straf- en vryskoppe is in dié wedstryd toegeken - 34 vir die Kuile en 6 vir Pniel. Elke keer het dit gebeur wanneer die spanne binne die opponente se 22 meter was. ’n Mens het eintlik die spelers jammer gekry, want dit was duidelik dat hulle baie gefrustreerd geraak het. Dat die spelers se humeure nie handuit geruk het nie is eenvoudig te danke aan die dissipline wat albei spanne aan die dag gelê het. Die rustydtelling was 8-6 en as die tuisspan se spelers beter besluite kon neem, kon hulle as die wenners van die veld gestap het, want daar is geleenthede geskep wat in punte omskep kon word. Vir Pniel het Andrew Anthony met twee strafdoele geslaag terwyl die flank Fernando Adams sy hart uitgespeel het. Agterlangs het Gavin Petersen hard probeer en ’n paar goeie lopies ingekry.
More
News
|