Welsyn georganiseer
2005-08-18
DIE Wellington gemeenskap se kerke en welsyndiensorganisasies het hulle saamgesnoer in ‘n oorkoepelende maatskappy, Welvisi, wat van groot belang vir welsyndienslewering in die Drakenstein gebied kan wees.
Welvisi het in 2004 sy beslag gekry as ‘n Artikel 21-maatskappy. Die lede is die NGK Kerk, VGK, AGS, Anglikaanse Kerk, First Love, Amos, Cansa, ACVV en Badisa.
Volgens Danie Nel, hoofouderling van die NG Moederkerk en voorsitter van Welvisi, is dié openbare maatskappy se hoofdoelwit om ‘n oorkoepelende en gestruktureerde proses in werking te stel in die Wellington-omgewing waardeur welsyn en sosiale welvaart van Wellington-inwoners op ‘n gekoördineerde wyse hanteer kan word.
Voorts wil Welvisi alle rolspelers in die welsyn- en ontwikkelingsveld in die Wellington-gebied betrek in gemeenskaplike projekte, sonder om hul eie identiteit prys te gee.
Welvisi wil huidige en toekomstige welsyns- en ontwikkelingsbehoeftes identifiseer, prioritiseer en waar moontlik, gesamentlike projekte loods.
Dan wil Welvisi ook met plaaslike owerhede, nasionale en provinsiale wetgewers skakel rakende die implementering van die programme, tot voordeel van die Wellingtongemeenskap.
Die aktiwiteite van Welvisi is gebaseer binne ‘n Christelike etos op: * Die gelykheid van alle rolspelers sodat niemand oorheers nie. * ‘n Demokratiese stelsel van konsensusbesluitneming, funksionering en toelating van nuwe lede; * Breë konsultasie sodat ingeligte besluitneming kan geskied; * Deursigtigheid van alle aktiwiteite; * Onafhanklikheid as maatskappy sodat afsonderlik van regeringstrukture en politieke invloede opgetree word; * Selfbemagtiging en promovering van die Wellingtongemeenskap om selfversorgend te kan optree; en
Welvisi nooi Artikel 21-organisasies, gemeentes van Christelike denominasies en verenigings om vir lidmaatskap aansoek te doen by Posbus 142, Wellington 7654, per faks 872-4930 of epos danien@afriplex.co.za.
Vir navrae, skakel 872-4976. Nel meen dat die Welvisi-model groter effektiwiteit binne die welsynsgemeenskap oor die langtermyn sal bevorder en landwyd toegepas kan word. Samewerking met soortgelyke organisasies soos Valcare in Paarl en ander word reeds toegepas.
More
News
|