Roses te sterk vir Abbottsdale
2009-06-11
ROSES UNITED het verlede Saterdag groot veggees en karakter getoon om die span van Abbottsdale met 19-7 te klop op Pelikaanpark in Wellington. Vir ’n verandering was dit die Rose se agterlyn wat hierdie keer die wa deur die drif getrek het. Die Rose se skrumskakel, Percival Williams, het veral in die eerste helfte goeie spel gelewer teen die besoekers. Williams speel deesdae met baie selfvertroue en sy skopwerk kan vorentoe nog ’n groot bate vir die Rose wees. Die senter Christopher ‘Manie’ Adams het met sy puik spel ook gewys dat hy basies op enige posisie in die agterlyn kan meeding. Talle kenners is inderdaad verbaas oor die feit dat Adams nog nie nader geroep is deur die provinsiale keurders nie. Lindile Skota (vleuel) is ook weer besig om sy vorm van verlede jaar te herwin. Die Rose se agttal het oor die algemeen goed vertoon teen hul swaarder opponente van Abbottsdale. Puik skrumwerk het daartoe gelei dat die Rose ’n hele paar vaskoppe wen. Vir die Rose het hul kaptein en oopkantflank, Franzil September, weereens ’n barshou gespeel. Op September se huidige spelpeil is daar min oopkantflanke in die Boland wat by hom kan kers vashou. Sy werkverrigting, visie en puik leierskap is tans van onskatbare waarde vir sy span. Stefanus Cedras, Adams en Williams het elk ’n drie vir Roses gedruk. Williams was suksesvol met twee doelskoppe. Die Rose pak eerskomende Saterdag die span van Robertson op laasgenoemde se tuisveld. Robertson speel tans goeie rugby en die Rose kan hulle regmaak vir ’n harde stryd. Die Roses-spelers het egter dié seisoen gewys dat hulle min respek het vir reputasies en sal verseker met niks minder as ’n oorwinning tevrede wil wees nie. Indien Roses United se voor- en agterspelers gaan kliek soos teen Wesbank en Ceres, behoort die span min moeite te ondervind om Robertson op sy tuisveld te oorrompel. Busse vertrek Saterdag om 10:00 vanaf Klaasenstraat, Hillcrest.
More
News
|