Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Onstuitbaar

Onstuitbaar
 
2009-06-11

Jaco van Wyk

MET Paarl Rugbyklub se monster-skrum weereens in ’n verwoestende bui op Faurestraat-stadion, het die manne in blou hul besoekers van Elsiesrivier van die afskop af in trurat gehad.

Paarl se voorspelers het letterlik hul opponente agteruit laat hardloop tydens skrumtyd, om aan die agterlyn gehalte-balbesit te verskaf om uiteindelik met 34-9 koning te kraai.

Met sewe oorwinnings en een gelykop-uitslag in nege wedstryde dié seisoen, is Paarl ná Saterdag se oorwinning stewig in die tweede posisie van die WP Premierliga A met 36 punte. Op 45 punte lê Belhar in die eerste plek en St Georges lê derde (28 punte).

Paarl het in die eerste paar minute van die wedstryd reeds hul klem afgedruk toe die flank Shaun Taylor oor die doellyn is vir sy span se eerste drie.

Taylor se drie het gekom na goeie samespel tussen die vlugvoetige Clive Samuel (senter) en die ratse Alewyn Hugo.

Met die voorry van Vorster Stone, Riaan Ehlers en Jaco Stadler, wat soos ’n stootskraper die lewe uit hul opponente geskrum het, kon Samuel in sy spanmaat se spore volg om Paarl se tweede drie te druk.

Die skrumskakel Eugene Francis, wat aangewys is as die speler van die wedstryd weens sy puik diens en skerp besluitneming, is na ’n goeie breekslag self beloon met ’n vyfpunter.

Paarl se volgende drie het gekom toe die klipharde agtsteman, Lionel Hugo, die bal toegeval het vir sy eerste van twee drieë.

Hugo se drie was weereens te danke aan Paarl se voorhoede wat hul opponente oor die doellyn geskrum het. Hugo kon eenvoudig net op die bal val vir ’n maklike drie.

Na goeie dryfwerk het Ehlers oorgeduik vir nog ’n drie, waarna Hugo sy tweede drie kon behaal.

Paarl kon baie verder gewen het mits hulle hul kanse beter benut het.

Die losskakel, Jacques Hendricks, het twee doelskoppe deur die pale gejaag.

Paarl se oorwinning kan toegeskryf word aan goeie dissipline, asook die puik leiding van hul kaptein, Andre-Louis de Villiers, wat tans uithelp op slot.

Paarl se tweede span is steeds onoorwonne na hulle met 31-3 gewen het teen Elsiesrivier se tweedes. Hulle lê welverdiend bo-aan die punteleer.

Paarl III het met 40-0 gewen om vir die soveelste keer dié seisoen Paarl se diepte te onderstreep.

Die wedstryd van Paarl se o.20-span teen Watsonia is uitgestel aangesien hul teenstanders nie ’n geskikte veld beskikbaar gehad het nie.

Met die seisoen wat nou net mooi halfpad is, geniet Paarl eerskomende naweek ’n loslootjie. Die liga sal weer in alle erns afskop op 20 Junie wanneer Paarl teen St Georges te staan kom.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za