Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bekentenis van 'n boek-dief

Bekentenis van 'n boek-dief
 
2009-06-18


MET ons intrek op Wellington ses jaar gelede, het ek by die biblioteek aangesluit en op die eerste dag twee boeke uitgeneem.

Ek mis toe die sperdatum vir die teruggee van die boeke, en om een of ander rede (moenie vra waarom nie) het ek daai boeke eers ná ’n jaar (en verskeie skriftelike aanmanings later) teruggeneem.

Skaam het ek toe daar uitgekom, die boeke neergeplak en so vinnig moontlik soos ’n groot speld verdwyn en amper landuit gevlug. En vir die ses jaar daarna elke dag met verlange na die gebou gekyk as ek daar verbyry.

Vir die laaste ses jaar voed ek dus my woord-honger met ’n “boek-ruil-skema” met my ma, sus en ’n vriendin of twee, ’n oorvloed tydskrifte, koerante, resepteboeke (ek kook nie), gekoopte boeke (raak ’n duur oefening) en les bes... my betroubare woordeboek - tot nou die dag.

So boender ek teen laatmiddag die hele gesin in die kar vir die gevreesde biblioteek-uitstappie. Die plek is stampvol tieners, kinders en grootmense.

Ek spreek die nuwe en onbekende (dankie tog) vrou agter die toonbank op fluistertoon aan (dalk meerendeels uit vrees dat my skande op die lappe kom).

Ek mompel iets van “was lank terug ’n lid, maar wil van vooraf aansluit” – in die hoop dat sy my bloot ’n blinkskoon vorm aanbied en nie agterkom ek is Daai-vrou-van-ses-jaar-gelede nie.

Maar nee, sy soek my ID-nommer, “want jy’s tien teen een nog steeds op die stelsel, Mevrou”.

Ek rammel my ID-nommer vir haar af en sy tik dit blitsig op haar rekenaar in om my lidmaatskap-status te beloer.

Sekondes later kondig sy luidkeels aan (sy kon netsowel ’n menslike megafoon gewees het) dat Juffrou Sofia vlug vorentoe reeds vir járe uitstaande is.

Tweehonderd geskokte nekke (oukei, dalk net twintig) ruk almal gelyk om om te sien hoe lyk die misdadiger. Die misdadiger lyk soos ’n ryp pruim.

“Dis onmoontlik,” prewel die pruim. “Daai boek is beslis terug. Ek wéét hy was destyds baie laat, maar ek belówe ek het hom teruggebring. Op my erewoord.”

Ná etlike gespanne ligjare (die twintig nekke het gevries) spreek sy uiteindelik die genadewoorde, “Ek maak dit gou op die stelsel reg, Mevrou.”

Die klad op my naam is skoongevee. Ek is daar uit met vier boeke vir die kinders en ’n arm-vol vir myself.

Die teruggee-datum is môre. Ek wéét, want daar is ’n nota op my yskas, ’n herhalende alarm op my selfoon, nóg een op my epos-program...

Heidi Malherbe




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za