Kopkrappers in Afrikaans
2005-08-18
BELANGSTELLENDES is welkom om die Afrikaanse Taalvasvrakompetisie by te woon wat op Donderdag 18 Augustus op Wellington gehou word.
Die geleentheid, wat deur die Vriende van Afrikaans op Wellington aangebied word, vind vanaf 18:00 plaas in die Goodnow-saal.
Twintig vrae sal aan elke span van drie lede gestel word. Die deelnemers sal onder meer moet kop krap oor die korrekte spelling van woorde, idiomatiese gebruik, letterkunde, terminologie, Afrikaanse musiek, die geskiedenis van die taal en EngAfrikaans.
Uitnodigings is onlangs na verskillende skole en instansies gestuur, waarna inskrywings ontvang is. Talle pryse is op die spel, waaronder geldpryse, ‘n ete by die Wimpy en boekpryse geborg deur Human & Rousseau.
Inskrywings het reeds gesluit.
In die laerskole-afdeling sal Hugenote koppe stamp teen Laerskool Hugo Rust.
Die afdeling vir hoërskole het inskrywings gelok van die ATKV Junior Span, Wellington VGK, Bergrivier Sekondêr en Hugenote Hoër.
Die afdeling vir volwassenes, wat ook studentegroepe insluit, het die meeste belangstelling gelok.
Onder die spanne wat ingeskryf het, is die Rapportryers, die Volendamspan, die Besprekingsgroep, die Genootskappers van die Taalmuseum, die ATKV senior span, studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, en Trust Rekenmeesters.
Belangstellendes wat uit die gehoor die aksie wil gade slaan, is welkom (toegang gratis).
Die kompetisie begin om 18:00 met die laerskoolafdeling, gevolg deur die hoërskole teen 18:30 en die afdeling vir volwassenes om 19:30. Sap, tee en koffie sal te koop wees.
‘n Boeke-uitstalling deur Human & Rousseau word ook aangebied. Vir meer inligting, kontak dr Etienne Smit by 873-3050 of gertie@iafrica.com.
More
News
|