SUID-AFRIKA vier hierdie maand Bloedskenkermaand met Wêreld Bloedskenkerdag wat op 14 Junie gehou is. Die Westelike Provinsie Bloedoortappingsdiens (WPBOD) doen vanjaar ’n beroep op skenkers om ’n ‘buddy’ saam te bring as hulle bloed skenk en só dubbeld ’n verskil te maak.
“Bloedskenkers kan tot vier lewens met ’n enkele donasie red. Deur as ambassadeurs op te tree en ’n vriend of vriendin te inspireer om ook ’n bloedskenker te word, kan dubbel die hoeveelheid lewens gered word,” het Adanaan Arnold van die WPBOD, gesê.
Toegang tot ’n veilige en voldoende bloedvoorraad is die reg van enige Suid-Afrikaner, maar dié belangrike hulpbron kan slegs met die hulp van vrywilligers uit die gemeenskap bekom word.
Bewustheid van die behoefte aan gereelde bloedskenking om ’n veilige voorraad voortdurend aan te vul, is belangrik, omdat bloed en bloedprodukte ’n kort raklewe het.
Volgens Marika Champion van die WPBOD, sal 75% van die Wes-Kaapse bevolking op een of ander stadium bloedprodukte nodig hê, terwyl slegs 1% van dié bevolking bloed skenk.
“Die winter is hier en slegte weer, verkoues en griep veroorsaak dat die bloedvoorraad swaarkry.”
Enige persoon ouer as 17 en jonger as 65 jaar, wat meer as 50kg weeg en ’n gesonde, veilige leefstyl handhaaf, kan bloed skenk.
Skenkers moet onthou om te eet voor hulle ’n skenkingskliniek besoek. Bloedskenkers kan elke Donderdag by die WPBOD se kantoor in Hoofstraat 263, Paarl vanaf 10:00 tot 19:00 bloed skenk.
Vir meer inligting, sms “Bloed” na 33507 en die WP Bloedoortappingsdiens sal jou met die nodige inligting rakende skenkingspunte terugskakel of skakel 021-871-1030 of stuur ’n epos na info@wpbts.org.za. Belangstellendes kan ook hul webblad by www.wpblood.org.za besoek.