Plaaslike gholfers durf Maleisië aan
2005-08-18
DIE pragtige Maleisië is die afgelope twaalf jaar reeds die gasheer van die Węreld Amateur Gholfkampioenskappe vir spanne, bekend as WAITGC (World Amateur Inter-Team Golf Championships).
Die doel van die toernooi is om toerisme, en spesifiek gholftoerisme te bevorder.
Spanne van regoor die węreld neem jaarliks deel en vanjaar het vier spelers Suid-Afrika daar verteenwoordig.
Antonie Botha, eienaar van Pasadena Spur in die Paarl, en sy broer Dawid (‘n Gautenger), het in Mei aan kwalifiserende ronde nommer drie deelgeneem en is genooi om aan kwalifiserende ronde nommer vyf deel te neem.
Die toernooi bestaan uit ses kwalifiserende rondes, met vyf spanne (die drie beste spanne ten opsigte van bruto tellings en die twee beste spanne ten opsigte van netto tellings) van elke ronde wat kwalifiseer vir die finaal wat op die węreldbekende Saujana Golf and Country Club in Kuala Lumpur gespeel word.
Spanne bestaan uit vier spelers, wat individuele houespel speel, met die beste drie bruto- en nettotellings wat die span se tellings bepaal.
Elke ronde strek oor 54 putjies, wat oor drie dae strek, met ‘n oefenronde voor dag een.
Björn van Oort, vryskutjoernalis wat lid is van Paarl Gholfklub, en Johan Louw van Paarl Post het die Botha-broers op die gholfekskursie vergesel as gaste van die Maleisiese Toerismeraad.
Die betrokke rondte is in die stad Kutching, geleë in die suide van die Sarawak provinsie, gespeel. Sarawak is op die eiland Borneo geleë, wat grens aan Indonesië.
Kutching, met ‘n inwonertal van 450 000 mense, is ‘n ware inkopieparadys vol van kultuur en besienswaardighede veral in die alomteenwoordige “India Street” en “China Town”.
Aan natuurtonele ontbreek die gebied ook nie - riviere, woude, die bekende Bako nasionale park en ongeskonde strande.
Kutching het drie bekende gholfkampioenskapsbane: Borneo Heights, Damai Golf & Country Club en Kaleb Golf Sarawak (KGS). Borneo Heights is op ‘n berg geleë - ‘n baan wat letterlik tussen die natuurlike woude uitgekap is. Dit is ‘n baie eksklusiewe baan, wat net per vierwiel-aangedrewe voertuig bereikbaar is.
Damai Golf & Country Club is sowat 30km buite Kutching, skilderagtig geleë tussen die golwe van die Suid Chinese See en immergroen woudbedekte berge. Die baan is deur Arnold Palmer ontwerp.
Hierdie 6,300 meter lange syfer 72 baan vereis akkurate houe, aangesien daar oorgenoeg waterhindernisse en bome is om ‘n “swak” hou te straf.
Die laaste vier putjies word al langs die see gespeel, wat lafenis bied teen die hoë humiditeitsfaktor in die lug.
Kaleb Golf Sarawak (KGS) is die baan waarop kwalifiserende ronde nommer vyf gespeel is. Geleë in Kutching self, bied KGS twee 18-putjie bane.
Met ‘n totale lengte van 6 400 meter, het dié syfer 72 baan verskeie waterhindernisse en die taai ru-veld moet liefs vermy word. Akkurate houe word te alle tye vereis, en afstand op houe is ‘n bonus.
Interessant genoeg is die setperke redelik hard, wat beteken dat die vlaggie nie sommer aangeval kan word nie. Die baan is egter pragtig, en ‘n ervaring om op te speel.
Die toernooi is afgesluit met ‘n prysuitdeling en ete by die Merdeka Palace Hotel & Suites, waar die spelers ook tuisgegaan het vir die duur van die toernooi.
Dit was voorwaar ‘n onvergeetlike aand van samesyn, kulturele musiek en danse en die voortreflikste Maleisiese geregte.
Hoewel die Suid-Afrikaanse span nie vir die finaal gekwalifiseer het nie, het hulle as troosprys darem deeglik met die Australiese span afgereken.
"Die besoek aan Maleisië met sy pragtige gholfbane was voorwaar ‘n onvergeetlike ervaring, vertel Johan.
“Toeriste word oral baie vriendelik behandel, en dit is ook ‘n land wat vir Suid-Afrikaners bekostigbaar is."
Vir meer, besoek www.waitgc.com.
More
News
|