Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Laurie stoom voort ná draai by dood

Laurie stoom voort ná draai by dood
 
2009-06-18

Lise Beyers

BYNA ’n jaar gelede was die bekende Paarlse veearts, dr Laurie Coetzer, besig om sy sake in orde te kry, nadat hy keer op keer deur medici gewaarsku is dat sy laaste dae aangebreek het.

Maar vandag is Coetzer volstoom terug by sy praktyk.

Na ’n Kalahari-vakansie in Julie verlede jaar, het Coetzer met sy terugkeer olik gevoel. Hy het orals pyne ervaar en is later dokter toe.

Hier is daar vasgestel dat die kroonaar na sy hart heeltemal verstop is, en die linker een sewentig persent verstop. Volgens sy dokter moes hy toe al dood wees.

Met dié het vog onder die hartsak opgebou, en 750ml is afgetap.

Terselfdertyd het vog op sy longe begin vorm, en toets na toets, onder andere vir kanker en TB, is op Coetzer uitgevoer om die oorsaak van sy mediese toestand vas te stel, maar dokters het steeds met hul hande in hul hare gesit.

En intussen het Coetzer se toestand stelselmatig verswak.

’n Angiogram moes op hom uitgevoer word, maar dokters kon op hierdie stadium dit nie doen nie, want hulle was bang hy sou dit nie oorleef nie.

In plaas hiervan het hulle besluit op ’n CT-skandering. Hiervoor moes jodium ingespuit word, en met dié, toon Coetzer ’n allergiese reaksie, en hy moes toe eers gestabiliseer word.

Volgens alle aanduidings moes hy ’n hartomleiding ondergaan, maar hy was te swak hiervoor.

Hy is huis toe gestuur om aan te sterk, en toe eers is die operasie uitgevoer.

En net toe dit gelyk het asof hy op die pad na genesing is, skeur die wond los en ’n stafilokokkus-infeksie tree in.

“Alles wat kon verkeerd loop, het. Toe het ek werklikwaar gedink dat ek aan die einde is.

“Ek het totale hartversaking gehad, en boonop kon die operasiewond nie geheg word nie weens my swak toestand.

“Weereens is ek huis toe gestuur. Ek was in geweldige pyn en kon niks vir myself doen nie.”

Teen hierdie tyd het Coetzer 30 kilogram verloor, en was skaars die helfte van die mens wat hy voorheen was.

Hy is weer hospitaal toe vir die operasie om sy borswond te heg, en uiteindelik is hy huis toe, vasbeslote dat hy nou gaan aansterk.

Maar twee weke later tref die noodlot weer.

“Ek het ’n geweldige pyn op my maag gekry. Ek het gedink dat dit dalk verwant kan wees aan die bors-hegting.

“Weer is daar skanderings gedoen, asook ’n CT skandering. Hier is gevind dat die boonste gedeelte van my dikderm gebars het en my pankreas se afskeiding het in my buik geloop en was basies besig om my ingewande te verteer.”

Nou het dokters vir Coetzer se vrou, Biddy, vertel dat sy kans om hiervan te oorleef 1% was. Maar met sy mediese kennis het hy geglo dit is verby.

’n Noodoperasie is op hom uitgevoer om herstelwerk te doen, en omdat hy so swak was, kon hierdie prosedure nie onder narkose uitgevoer word nie, maar met epidurale verdowing.

Almal het geweet dat sy kanse van oorlewing baie skraal was. Volgens dokters het niemand wêreldwyd al van hierdie gebarste deel van die dikderm oorleef nie.

Nadat Coetzer uit die teater na die intensiewe eenheid oorgeplaas is, was hy vir nege dae in ’n koma.

“Ek het nege dae van my lewe hiér verloor, en weet niks van besoekers wat by my aangeklop het nie.”

Die volgende twee weke was krities, en as hy in hierdie tydperk sou bly leef, sou die kans op herstel al hoe beter raak.

En so het Coetzer met die hulp van Biddy en hul twee dogters, Marli (15) en Christina (13), stadig maar seker herstel.

Eers is daar in die Paarl bespiegel dat hy nooit weer sou kon werk nie, maar hy het almal verkeerd bewys, en drie maande later is hy terug na die praktyk wat hy met dr Pietie van Aarde deel.

“Tydens die donkerste dae van my siekte het ek nooit ophou baklei nie. Daar is soveel om voor te lewe en dit kan ’n mens nie weggooi nie.

“My herstel ná ses maande, nadat ek volgens medici drie keer moes dood wees, is te danke aan ’n oppergesag, asook die ongelooflike ondersteuning van familie en vriende.”

Alhoewel Coetzer nou dinge ’n bietjie stadiger moet vat en nie alles kan doen, soos jag, wat hy in die verlede graag gedoen het nie, sien hy wel nou die klein dingetjies in die lewe raak.

“As ek by ’n mooi blommetjie in die tuin amper verby loop, stop ek eers om van nader daarna te kyk.

En wanneer ek die genadedood op die geliefde troeteldier van ’n pasiënt moet toepas, dan stort ek ’n traantjie saam met hulle.”

En wanneer hy in die stilte van sy woonkamer sit en dink aan al die wonderlike dinge wat hy het om voor te lewe, dan draai die woorde van Kris Kristoffersson se liedjie in sy kop, “Why me Lord, what have I done, to deserve the pleasures I’ve known?”

* Paarl veterinarian, Dr Laurie Coetzer, has miraculously recovered after doctors predicted his death due to illness which lasted six months.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za